Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oudvriend daag Oompie uit: ‘Lê ’n leuentoets af’

’n Eertydse vriend van die sogenaamde kaalvoetpastoor David “Oompie” Cupido, wat beleggers nog miljoene skuld, het hom uitgedaag om ’n leuenverklikker­toets af te lê sodat “die waarheid kan uitkom”.

Dit volg nadat ’n samekoms wat deur die omstrede “beleggingsmaatskappy” 4th Power Investments, waarvan Oompie die enigste direkteur is, se eertydse beleggers vir Vrydag (2 Oktober) gereël is, op die laaste minuut afgelas is.

Beleggers wou na Cupido se huis in Coronationstraat in Touwsrivier opruk om hul misnoeë uit te spreek dat hulle nooit hul miljoene, soos beloof, ontvang het nie.

Die maatskappy het in 2016 miljoene rande se “beleggings” – meestal in kontant – van na raming sowat 12 000 mense ontvang, waarna die Valke toegeslaan het en sy werksaamhede vroeg in 2017 gestop is.

“Dit tyd het aangebreek dat Oompie die waarheid praat en vir die mense sê dat daar nie meer geld is nie. Daar het reeds so baie seer uit die storie gekom en nou, vier jaar later, lyk dit asof dieselfde patroon van beloftes gevolg word. Mense kan hom sekerlik nie meer glo nie,” vertel Oompie se eertydse vriend en nabye kennis, Franswa “Boeta Das” Pietersen.

Pietersen het aan Standard gesê dat hy persoonlik ’n punt in sy lewe bereik het waar hy waardes soos “respek, verantwoordelikheid en aanspreeklikheid” met aksie uitleef, dus help hy nou beleggers om antwoorde te kry oor waarheen hul geld verdwyn het.

“Geld is bestee op luuksevoertuie, weelde-vakansies, ’n diamantring en grafstene. Nou sit hulle met ’n kopkrap oor waarheen die geld ‘verdwyn’ het.”

Pietersen het in sy onderhoud met Standard emosioneel geraak en in trane uitgebars. Hy sê hy is jammer oor die rol wat hy in die sage gespeel het en dat hy Oompie nou uitdaag om saam met hom ’n leuenverklikkertoets af te lê sodat die waarheid kan uitkom.

“Mense het hul huise en karre verloor en selfs familielede aan die dood afgestaan as gevolg van die finansiële druk wat op hulle geplaas is om by 4th Power te belê.”

Pietersen sê families is opgebreek en aksie moet nou geneem word teen die man wat vir die seer verantwoordelik is.

Cupido het weer op YouTube gesê hy het Vrydag vir beleggers gewag, hoewel niks met hom gereël is nie. Hy het verder genoem dat ’n “deeglike proses” nou gaan plaasvind om inligting in te samel van die verskeie beleggers om hul geld te begin betaal.

Pietersen meen egter die geld bestaan nie meer nie en Cupido sal in die hofbanke moet gaan verduidelik waarheen al die geld is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.