Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ouers, kontrakteurs maak stem dik

“Ons kinders moet deur die bosse na hul onderskeie skole stap, en dit is glad nie veilig nie. Die departement moet dringend omsien na ons kinders se veiligheid.”

Só sê honderde ontstoke ouers uit een mond omdat busdienste tydelik weens ’n geskil tussen busmaatskappye en die Wes-Kaapse onderwysdepartement opgeskort is.

Ouers het Dinsdag (6 Oktober) voor die Kaapse Wynland-onderwysdistrikskantoor in Durbanstraat saamgetrek om hul misnoeë oor die besluit uit te spreek.

“Die busse het hul dienste gestaak omdat hulle glo vir ses maande nie betaling van die departement af ontvang het nie. Dit sal binnekort tyd wees vir eksamens en toetse; nou sit ons met die probleem wat ’n direkte impak op ons kinders se toekoms het,” sê Shirley Davids, ’n inwoner van Robertson.

Davids het aan Standard gesê die kinders loop waardevolle klastyd mis of moet hul veiligheid in die gedrang plaas om by hul onderskeie skole uit te kom.

“Die uitdagings wat julle deurmaak, is ook ons uitdaging en ons besef die reuse-impak wat dit het op kinders wat nie in die skool is nie,” het Juan Benjamin, direkteur van die Kaapse Wynland-onderwysdistrik, aan die skare gesê.

Benjamin het gesê die streek word erg deur die geskil getref omdat die departement hier daagliks meer as 20 000 kinders na hul skole vervoer.

“Niemand het ons gevra wat aan die gang is nie. ’n Wetlike dispuut tussen die departement en buskontrakteurs het tot ’n saak in die hooggeregshof in Kaapstad gelei.”

Die saak het weer Woensdag (7 Oktober) voorgekom en die uitslag word nog afgewag.

“Die hoofprobleem is betaling. As gevolg van die Covid-19-pandemie is ’n roterende stelsel by skole ingestel. Dit het veroorsaak dat ons omtrent 33% van ons normale kapasiteit vervoer en nou betaal die departement ons net vir daardie 33%. Dit het toenemende finansiële druk op buskontrakteurs geplaas,” sê Juan Swanepoel, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Raad vir Kleinbusoperateurs.

Swanepoel sê hulle het op etlike maniere met die departement gekommunikeer voordat hulle besluit het om dienste te staak.

“Die departement het die houding dat hulle nie met ons wil praat nie en nou het ouers besluit dit kan nie so aangaan nie; iemand moet luister.”

Pleetje Luthango, nog ’n ouer, sê ouers se pleidooi is dat die departement die kontrakteurs moet betaal “sodat ons met geruste harte kan weet dat ons kinders veilig by hul onderskeie skole kan uitkom om onderrig te ontvang”.

Luthango sê hy is werkloos en hy het nie geld om elke dag toe te sien dat sy kind by die skool uitkom nie.

Die departement het gesê hy het simpatie met sulke situasies en sal sy uiterste bes probeer om so gou as moontlik ’n oplossing in die belang van die kinders te vind.

“Die kinders wat naby hul skole woon, kan maklik skool toe gaan. Hulle ontvang steeds hul onderrig, maar ons kinders [wat by skole verder van die huis af is], word benadeel deur die staking van busdienste wat verhoed dat hulle by hul skole kan uitkom,” het Davids bygevoeg.

Benjamin het ouers verseker dat hulle in gereelde kontak is met skoolhoofde in die streek en dat geen kind benadeel sal word nie.

“Niemand wen solank die dispuut aan die gang is nie en dit is belangrik dat ons die saak so gou as moontlik wetlik oplos sodat ons die regte ding kan doen,” sê Benjamin.

Swanepoel het gesê die gebrek aan kommunikasie van die departement kort dringend aandag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.