Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ouma Annie (100) vra: ‘Het jy iets lekker gebring’

Dit sit nie in enigeen se broek om só oud te word nie.

Ouma Anna Arendse van Nuy het gister (18 Maart) haar 100ste verjaardag saam met familie op die plaas Oude Schuur gevier.

Ouma Anna, wat in 1920 gebore is, het op agtjarige ouderdom saam met haar gesin uit Oudtshoorn gestap om hiér te kom woon.

“Toe sy 14 was, het sy as huishulp by ene meneer en mevrou Rabie begin werk en het later ook vir hul seun gewerk,” vertel Anneline Arendse. “Sy het in 1940 met Henog Arendse in die huwelik getree en saam het hulle agt kinders in die lewe gebring.”

Standard het Maandag met Ouma, soos sy onder haar geliefdes bekendstaan, gaan gesels waar sy in haar rolstoel vir die besoek gesit en wag het. Sy wou net by een van haar familielede weet of sy darem iets vir haar saamgebring het.

“Het jy iets lekker gebring? Gaan jy vir my ’n stukkie vleis saambring?” wou sy weet.

Sy wou ook “ ’n bietjie gemmerbier en Coke” hê.

Verder, om ’n paar vrae te antwoord, sê sy: “Dis nie lekker om so oud te raak nie. Dis nie lekker om aanmekaar gehelp te word nie en om niks self te kan doen nie.

“Hierdie jong kinders van vandag weet nie wat dit is om na hul oues om te sien nie,” meen Ouma.

Na ’n paar hartkloppens se stilte voeg sy by: “Eer jou moeder en jou vader.” Dis ’n gebod wat vir haar al jare baie belangrik is en ook waarby sy leef.

Drie van Ouma se dogters was Maandag daar en Sarah van Rooyen meen dis deur genade dat sy hierdie mylpaal bereik het.

“Ons ma het nog altyd ’n mooi voorbeeld vir ons as kinders gestel. Die Here is ’n groot deel van haar lewe. Sy was nog altyd daar om ons te beskerm en het ons geleer om nooit lelik te wees met mekaar nie,” sê Van Rooyen.

Ouma se man is reeds in 1970 oorlede en sy het ook al twee van haar dogters aan die dood afgestaan. Haar oorblywende familie sluit in 28 kleinkinders, 42 agterkleinkinders en 19 agteragterkleinkinders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.