Die saak van Peter Pietersen (46) wat aangekla is van die moord op sy lewensmaat, Annelise Fiks (43), is onlangs in die Worcester-streekhof vir ’n pleitooreenkoms uitgestel.
Hy het Maandag 6 Mei in die hof verskyn. Fiks se liggaam is laat verlede jaar in ’n vrugteboord op die plaas Stilwater tussen Worcester en Wolseley gevind. Daar was kneuswonde aan haar liggaam wat onder takke gevind is. Pietersen het self die toneel aan die polisie gaan uitwys en is daarna in hegtenis geneem en van moord aangekla.
Pietersen bly in aanhouding. Hy verskyn 3 Junie vir sy pleitooreenkoms in die Worcester-streekhof.