Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Polisie sluit 71 in week een toe

Die Worcester-polisie het bevestig dat daar sedert Donderdag om midder­nag, toe die staat van nasionale inperking begin het, 71 mense in die Worcester-omgewing in hegtenis geneem is.

Die nasionale inperking is ’n instelling wat deur die nasionale regering aange­kon­dig is om die uitbreek van Covid-19 te bekamp.

“Ons het ’n besige naweek met inwoners van Worcester ondervind wat nie die inperkingsreëls gehoorsaam het nie. Ons het met talle inwoners gesukkel om die reëls na te kom,” sê die woord­voerder van die Worcester-polisie, kapt. Tobela Dyasi.

Standard het verneem altesaam 71 mense wat oor die naweek in hegtenis geneem is, het Maandag in die hof verskyn op aanklag van die nienakoming van die inperkingsmaatreëls.

In Ceres het die polisie altesaam 26 mense in hegtenis geneem sedert die nasionale inperking aangekondig is.

“Een taxi is afgetrek en sewe mense is in hegtenis geneem, plus nog ’n individu vir die verkoop van drank. Verder is nog 18 mense in hegtenis geneem ingevolge die Wet op Rampbestuur. Ons polisielede vaar goed in hierdie moeilike tye en ons sal die wet toepas op die wat nie daarby hou nie,” het AO Andries Douglas, Ceres-polisie se woordvoerder gesê.

Hy bedank ook diegene wat die huidige reels volg.

’n Woordvoerder van die De Doorns-polisie het Maandag 30 Maart gesê dit was ’n stil naweek in die dorp. Niemand is nog in hegtenis geneem weens minagting van die inperkingsreëls nie.

Gerugte op Facebook dat ’n taxibestuur­der in Worcester in hegtenis geneem is, kon nie deur die Worcester-polisie bevestig word nie.

“Ons hoop die Worcester-gemeen­skap sal die inperking meer ernstig opneem en by die maatreëls hou wat deur die regering voorgeskryf is. Dit is tans vir die polisiediens ook ’n moeilike tyd wat voorlê wat die pandemie betref,” sê Dyasi.

Daar is tans 348 Covid-19-gevalle in die Wes-Kaap aangemeld en vier van hierdie is in die Breedevallei-munisipaliteit opgeteken – soos bevestig deur die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement.

Nasionaal is daar teen druktyd 1 353 gevalle aangemeld, met vyf sterftes.

“Ons wil graag ook diegene wat by die maatreëls hou, bedank en ons wil mense aanmoedig om aan te hou. Die polisie­diens hoop om binnekort te sien hoe die res van die gemeenskap die erns van die inperking besef.”

Die Wes-Kaapse gesondheidsdeparte­ment het ’n beroep op inwoners gedoen om nie te dink hulle is immuun teen die koronavirus nie en die nodige voorsorg te tref om die verspreiding daarvan te bekamp.

“Ons wil net weer beklemtoon dat jy net jou huis mag verlaat as jy winkel, apteek of hospitaal toe gaan en deel is van die noodsaaklike dienste wat gelewer moet word. Diegene wat toelaes ontvang mag ook hul huis vir hierdie rede verlaat,” sê die woordvoerder van die premier se kantoor, Bianca Capazorio.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.