Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Rare verhaal: Sussies kraam saam

BREEDEVALLEI – Twee plaaslike sussies, wat albei jare lank gesukkel het om swanger te raak, het toevallig op dieselfde dag, in dieselfde hospitaal, die lewe geskenk – elkeen aan ’n dogtertjie.

Talitha de Kock (29) en haar suster, Luzanne Hanekom (32), het dieselfde ginekoloog in Worcester geraadpleeg nadat hulle gesukkel het om swanger te raak.

“Dinge gebeur nie altyd in die lewe soos ’n mens dit beplan nie. Hierdie is net weer eens ’n bewys daarvan. Ons het ná vier en ’n half jaar van wag en drie siklusse behandeling uiteindelik swanger geraak met ons babadogtertjie,” vertel Luzanne, ’n menslikehulpbron-administrateur van Tulbagh.

Haar suster, Talitha, ’n onderwyseres in Rawsonville, het ook sedert 2018 probeer vir ’n pienkvoet en is destyds by dieselfde dokter op dieselfde behandeling geplaas.

Talitha het in November verlede jaar verneem sy is swanger en Luzanne in Oktober.

“Ek was in ekstase toe ons uitvind my suster is swanger omdat hulle reeds so lank gesukkel het. Dit was die beste nuus nog. Ons het van haar swangerskap gehoor voordat ek swanger was en kort daarna uitgevind ek is ook swanger. Ek en my sussie het aanvanklik ses weke verskil,” verduidelik Talitha.

Ses weke ná die begin van Talitha se swangerskap het die eerste rare verskynsel plaasgevind. “Ek het begin om erge pyn te ervaar. My baba was ’n buisswangerskap. Met my ondersoek ses weke ná my prosedure by dr. Steyn Smit het die onwerklike gebeur. Hy het bevestig dat daar nog al die pad ’n ekstra hartkloppie was. Hulle verwys daarna as ’n heterotopiese swangerskap – dit is wanneer een baba in die buis is en die ander in die baarmoeder. Dit is eintlik ’n tweeling, maar ’n bitter skaars verskynsel,” vertel sy.

Luzanne vertel sy en haar man was geseënd met ’n gesonde swangerskap. Luzanne sou op 20 Mei met ’n beplande keisersnee die lewe skenk, en Talitha eers op 15 Julie.

“Ek sou die middag van die 20ste ingaan teater toe, maar toe gebeur dit dat ek die aand van die 19de Mei self in kraam gaan toe my water so 23:30 die nag breek. My sussie is die vorige dag reeds weens haar hoë bloeddruk in die Mediclinic opgeneem. Aangesien ek vir ’n keiser vir die 20ste bespreek is, wou my familie my nie ontstel nie en het my nie hiervan gesê nie. Ons dogtertjie, Jeanri, is toe om 02:15 die oggend van die 20ste gebore, maar niemand sou kon raai dat Talitha se baba op dieselfde dag – ook ’n paar weke vroeg – haar opwagting sou maak nie. Dit het daartoe gelei dat my sussie my geskeduleerde tyd in die teater kon kry.”

Talitha vertel verder hoe sy daardie nag, in die oggendure, haar verbeel het sy hoor haar suster se stem in die gang van die hospitaal.

“Ongeveer 03:00 het ek ’n foto van my ma ontvang dat Jeanri reeds gebore is. Ek kon haar weens die Covid-19-gevaar nie eens besoek nie en sy het net in die kamer oorkant myne gelê. Ons wou juis nie my suster in kennis stel dat ek in die hospitaal is nie, want ek wou nie hê sy moes haar net voor haar geskeduleerde keiser oor my bekommer nie.

“Ek kon eers nadat my resultate van die Covid-19-toets negatief teruggekom het my suster sien en daarna het hulle ons in dieselfde kamer gesit. Dit was baie besonders en kosbaar.”

Talitha se keiser is toe later die dag gedoen en sy het Tia-Lee in die wêreld verwelkom. Sy het 1,13 kg geweeg, maar weeg vandag al 1,68 kg, maar is steeds in die hospitaal.

“ ’n Verpleegster het toevallig deur die loop van die oggend genoem dat my sussie ook vandag ‘gedoen’ word. Ek het nie verstaan wat sy bedoel nie, en toe ek uitvra, sê sy my sussie se babatjie word ook dié dag gebore. Sy het nie besef dat ek dit op daardie tydstip nog nie geweet het nie aangesien ons toe nog nie met mekaar gepraat het nie,” vertel Luzanne.

Die twee sussies sien uit om hul eerstelinge se eerste verjaarsdag aanstaande jaar saam te kan vier en hoop om die twee vinnig aan mekaar te kan voorstel.

Talitha het twee ander kinders uit haar man, Bernard, se vorige verhouding.

Die twee nuwelinge se ouma, Hannelie du Plessis, is in haar noppies oor die verskyning van haar twee kleindogters en vertel dat dit die grootste seën is wat hul familie kon tref.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.