Die Rawsonville-biblioteek het onlangs sy 55ste bestaansjaar gevier.
Die biblioteek het sy deure November 1964 geopen. Dit was nie in die huidige gebou in Le Seuerstraat in Rawsonville nie – die biblioteek het eers later na dié gebou geskuif.
Sedertdien het die biblioteek bestendig gegroei en die gemeenskap van Rawsonville deurlopend bedien.
“Dit is vir ons baie belangrik dat almal voel hulle het ’n plek in die biblioteek. Dit was al die jare nog altyd ’n plek vir oud en jonk en ons wil dit graag vir die toekoms ook so hou,” sê Chantelle Jacobs, bibliotekaris van die Rawsonville-biblioteek.
Die instansie is betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte om lees te bevorder en selfs diegene wat nie kan lees nie, word bedien.
“Ons gaan elke tweede week na Huis Lafras Moolman-tehuis vir bejaardes om boeke af te gee om hul gedagtes aan die werk te hou. Ons bedryf ook die dienssentrum in De Nova wat ons begin het omdat ons ’n behoefte raakgesien het. Daar is baie mense in dié gemeenskap wat nie kan lees nie en ons vat dan vir hulle gehoorstukke saam sodat hulle na ’n storie kan luister.”
Die Rawsonville-biblioteek bied ook in die vakansie programme aan om kinders besig te hou.
“Soggens kom baie bejaardes biblioteek toe om die koerant te lees en smiddae kom kinders huiswerk en skooltake doen.”
Die biblioteek bied ook ’n rekenaargerief wat beskikbaar is om navorsing te doen.
“Hier kom baie mense wat vertel dat hulle moderne toerusting het om te lees, maar hulle geniet dit om die harde kopie van ’n boek te lees. Hulle wil sien hoe ver het hulle gelees en baie mense verlang na die reuk van ’n boek. Ek dink biblioteke sal nog vir baie lank in ons gemeenskappe bly.”