Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
SA wynbedryf beur voort

Hoewel die Suid-Afrikaanse wynbedryf nog geruime tyd gaan neem om ten volle van die nagevolge van die Covid-19-handelsbeperkings te herstel, beur wyndruifprodusente voort deur hulle van die nuutste inligting en kundigheid toe te rus en voortdurend hul benadering in die wingerd aan te pas.

Hierdie was van die insigte wat tydens Winetech en Vinpro se vyf streekswebinare van September tot Oktober vanjaar gedeel is. Meer as 160 mense het die aanlyn sessies bygewoon.

Covid-19: waarheen nou?

Die Covid-19-pandemie het ’n verreikende uitwerking op wynproduse­rende lande van oor die wêreld gehad en Suid-Afrika is geen uitsondering nie.

Buiten die finansiële uitwerking wat wisselende beperkings op Suid-Afrikaanse drankverkope plaaslik en oorsee sedert Maart vanjaar gehad het, het dit saam met ’n afname in verkope aan die einde van 2019 tot ’n oorskot van sowat 290 miljoen liter ongekontrakteerde wyn aanleiding gegee.

Volgens Yvette van der Merwe van die Suid-Afrikaanse wynbedryfinligting en -stelsels (Sawis), is dit onafwendbaar dat hierdie ooraanbod ’n negatiewe uitwerking op wynpryse sal hê. “Die bedryf werk egter aan verskeie oplossings om die voorraadvlakke te verminder en wynpryse behoort weer in die volgende paar jaar te styg,” sê sy.

Van hierdie planne sluit in om die vraag na Suid-Afrikaanse wyne plaaslik en internasionaal te stimuleer, die vervaardiging van handreinigers van die huidige voorraad en langtermynkontrak­tering van druiwe vanaf die 2021-oes vorentoe vir die maak van druiwesapkonsentraat.

Met die parsseisoen wat in die middel van Januarie afskop, is kelders en wyndruifprodusente nou besig om bykomende bergplek te bekom of wingerde af te bestuur vir ’n kleiner 2021-wyndruifoes om druk op kelderkapasiteit te verlaag.

Albert Strever van die Universiteit Stellenbosch stel voor dat wyndruifprodusente die voor- en nadele van praktyke soos die parkering (“mothballing”) van wingerde deur minimale praktyke en insette, chemiese oesbeheer, die identifisering en afsaag of uitkap van niewinsgewende wingerdblokke en sluit van sapkontrakte deeglik opweeg.

Hoër wyngehalte sal na verwagting beter vaar in terme van verkope en prys; pas die wingerdbestuurstrategie daarby aan.

Nuwe planne met stokkies en siekte- en plaagbeheer

Ondanks die finansiële uitdagings plant heelwat wyndruifprodusente steeds nuwe wingerde aan. Tydens ’n studietoer na Italië en Duitsland aan die begin van vanjaar het Conrad Schutte van Vinpro sogenaamde “jumbo”-wingerdstokkies teëgekom, waarvan die onderstok baie langer as ’n tradisionele onderstok is. Die stokkie, wat ideaal as inboetstok kan dien, pas reeds tot by die kordondraad wanneer dit geplant word en vergemaklik onkruidbeheer aansienlik.

“Tydens die wingerd-tegniese skoue wat ek bygewoon het, was daar ’n groot fokus weg van onkruiddoders, met heelwat toerusting gemik op meganiese onkruidbeheer. Die teling van kultivars met gedeeltelike weerstandbiedendheid teen donsskimmel en witroes geniet ook baie aandag in Italië,” sê Conrad.

Die dreigende verbod deur die Europese Unie (EU) op die gebruik van swamdoders wat Mancozeb bevat, gaan wyndruifprodusente noop om hul swambeheerprogramme aan te pas.

Volgens Dirk van Eeden van InteliGro beskik die bedryf oor voldoende chemie­groepe om donsskimmel doeltreffende te bestry, selfs in hoëdruksituasies.

“Die geheim tot ’n suksesvolle witroes- en donsskimmelspuitprogram lê in voorkoming eerder as bestryding. Begin vroeg en hou by die voorgeskrewe program al word geen simptome waargeneem nie,” sê Pieter le Roux van Villa Crop. Hy maan produsente dat wyne moontlik van die 2021-oesjaar af vir Mancozeb getoets kan word en raai aan hulle moet die etikette van al die middels wat hulle gebruik, noukeurig nagaan om te verseker dat die Mancozeb-vlakke nie te hoog is nie. Navorsing het ook bewys geen Mancozeb-reste kom in bereide wyne voor indien die middel tot en met die ertjiekorrelfase toegedien is nie.

Produsente kan deur die doeltreffende bestuur van stamsiektes swak bot of die afsterwe van draers voorkom.

Dr. Francois Halleen van die Landbounavorsingsraad (LNR) stel voor dat die arms nie te styf om die kordondraad gedraai word sodat dit in die drade insny nie. “Verwyder ook alle hakies, toutjies en ander items wat arms kan wurg, en verhoed enige groot snoeiwonde naby die kordon. Indien groot wonde gemaak moet word, beskerm die wond met ’n wondseëlmiddel,” sê hy.

’n Nuwe vlagskipprojek deur Winetech, die Suid-Afrikaanse wingerdteelprogram, kyk ook na die teling van druifsoorte wat weerstand teen sekere siektes en plae bied.

Wingerdteling bly egter steeds ’n tydsame proses en dit neem etlike jare vir ’n suksesvolle druifsoort om die mark te bereik wat weerstandig is teen siektes én goeie gehalte bied, sê Phyllis Burger van die LNR.. Besoek die webtuiste by www.vinpro.co.za vir nog inligting of verdere besonderhede oor wanneer Vinpro weer seminare in die streek of aanlyn aanbied,

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.