Inwoners is ontsteld gelaat deur ’n video wat wys hoe Worcester-polisielede twee mans klap en met ’n sambok bykom.
Die Worcester-polisiestasie het die voorval aan Standard bevestig en gesê die betrokke lede rapporteer steeds vir diens.
Dit word beweer die twee mans wat aangerand word in die video, is glo aangespreek omdat hulle nie hul maskers gedra het nie.
In die video kan dit duidelik gesien word hoe een van die polisiemanne vir die een man vra waar is sy masker en toe die sambok uitpluk om die man ’n loesing te gee.
Die ander polisieman kan gesien word hoe hy die ander man in sy gesig klap.
’n Polisievrou, wat ook in die video te sien is, klap ’n ander persoon buite beeld.
Sosiale media het gemengde reaksie op die voorval getoon met party wat meen “die wat nie hoor nie moet voel” en anders wat meen “die polisie kan nie so optree nie”.
“Daar word tans ’n interne ondersoek geloods na die voorval. Dit bekommer ons dat inwoners steeds nie die regulasies soos uitgesit is, nakom nie,” sê ’n woordvoerder vir die Worcester-polisiestasie, sers. Vathiswa Jacobs.
Jacobs voeg by dat inwoners wat nie by die regulasies hou nie op ’n professionele manier reggesien moet word.
Die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, het die voorval ten sterkste veroordeel en hoop die ondersoek sal lig werp op die voorval.
“In die toekoms gaan my kantoor ’n kopie van die ondersoek aanvra om seker te maak daar word regverdig opgetree. Dit is belangrik dat polisie die gemeenskap se veiligheid eerste stel en dit nie ondermyn deur wangedrag nie,” sluit die persverklaring van Fritz af.
Die voorval kom sowat ’n maand nadat daar in ’n ander voorval ’n aanklag van moord aanhangig gemaak is teen ’n veiligheidswag van Worcester. In 'n video van dié voorval, wat ook die ronde op sosiale media gedoen het, kan gesien word hoe die wag deur 'n man met 'n mes gesteek word nadat die wag hom aangespreek het omdat hy nie 'n masker dra nie. Volgens die polisie het die veiligheidswag daarna die mes by die man afgeneem en hom in sy bors gesteek, waarna die man oorlede is.
Die polisie het gevra vir kans om die ondersoek na die jongste voorval te doen.