Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Seksklag teen raadslid


’n Bekende raadslid en party­leier van die Breedevallei Onafhanklik (BO)-party, Colin Wilskut (51), het nie die week by die hof opgedaag vir sy saak van seksuele aanranding nie omdat sy motor na bewering gebreek het.

Wilskut moes Donderdag 30 Januarie op drie aanklagte van seksuele aanranding in die Worcester-landdroshof verskyn. Wilskut se regsverteenwoordiger, adv. Johan Botes, het aangevoer dat sy kliënt nie beskikbaar is nie aangesien hy van Johannes­burg gereis het, maar teëspoed met sy motor ondervind het.

Die landdros, Alethea Ford, het die saak tot 21 Februarie uitgestel.

Standard het in Julie verlede jaar berig dat Wilskut deur vroue van seksuele aanranding beskuldig word.

Die bewerings is eers in ’n poniekoerant gepubliseer waarna die BO dit deur middel van ’n persverklaring aan Standard en ’n openbare Facebook-plasing ontken het.

Luidens die verklaring is die bewerings teen Wilksut pogings deur ’n geskorste lid om onmin in die party te saai.

Luidens die klagstaat het Wilskut twee vroue in verskeie voorvalle tussen 2016 en 2018 seksueel aangerand deur hulle te betas en onwelvoeglike voorstelle te maak.

Een van die vroue het open­hartig met Standard gepraat oor verskeie voorvalle wat gebeur het toe sy in die party se werwingskomitee gedien het.

“Hy het misbruik gemaak van sy gesag en as jy ’n vrou is wat saam met hom moes werk, was jy nie veilig nie,” beweer Juanita Jansen, wat toestemming gegee het dat haar naam gepubliseer mag word.

Sy verduidelik in grafiese detail hoe hy haar betas het.

Luidens die klagstaat het Wilskut sonder toestemming sy hand onder Jansen geplaas en aan haar vagina gevat.

“Ons het eendag rondgery en hy het op ’n plaaspad afgetrek. Hy wou my vasdruk en seks met my hê. Ek het gekeer, uitge­spring en begin loop. Hy het agterna gery en gesê hy grap net en dat as hy geweet het ek is so kinderagtig, sou hy nie probeer het nie,” vertel sy.

Jansen vertel dat meeste werkers en werwers as vrywil­ligers dien en dat hulle na die BO en sy lede opkyk soos mense na Madiba opgekyk het.

Die ander vrou wat luidens die klagstaat deur Wilskut seksueel aangerand is, is na bewering ook op verskeie geleenthede geteister.

Luidens die klagstaat het hy probeer om aan haar vagina te vat en het gereeld haar bobene gevryf. Hy het ook na bewering onwelvoeglik op ’n seksuele manier homself geuiter.

Jansen – asook van die vroue in vorige onderhoude met Standard – sê Wilskut het nie geskroom om hulle te dreig nie.

“Hy het eenmaal in ons huis ingekom om my vrou te dreig. Hy probeer sy slagoffers intimideer,” het Juanita Jansen se man, Ricardo, aan Standard gesê. Vir hom was dit bitter swaar toe hy uitgevind het van Wilskut se beweerde streke met sy vrou.

Die speaker van die Breedevallei-munisipaliteit, Neil Mercuur, het gesê hulle is bewus van die aantygings en dit word in ’n ernstige lig beskou.

“As speaker het ek ’n onder­soek aangevra en ’n verslag deur ’n ondersoekpersoon is bekom wat binnekort aan die raad voorgehou sal word,” het Mercuur gesê.

Die raad kan dan ’n bevinding maak oor die inligting wat in die verslag vervat is, of die raad kan ’n spesiale komitee aanstel om enige beweerde oortredings te ondersoek.

“Die raad het ’n kode vir etiese beleid vir raadslede. Dit is egter belangrik om daarop te let dat die ‘beginsels van natuurlike geregtigheid’ te alle tye nagekom moet word om te verseker dat dissipline billik, konsekwent en vinnig uitgevoer word,” sê Mercuur.

Verder kan dissiplinêre prosesse ingestel of voortgesit word, ongeag of strafregtelike of siviele stappe teen ’n raadslid ingestel is.

“Ek wil nie kommentaar lewer op die meriete en proses van die strafsaak teen raadslid Wilskut nie aangesien my kantoor groot respek vir ons regstelsel het,” voeg Mercuur by.

Nik Wullschleger van die BO het aan Standard gesê dat hulle geen verdere kommentaar het om te lewer aangaande dié saak nie en sal eers na afloop van die aanhoor van die hofsaak repliek lewer. Hy het Standard verwys na ’n persverklaring wat die BO in Julie verlede jaar uitgereik het.

“Ons as bestuur van die Breedevallei Onafhanklik (BO) Party, waarvan raadslid Colin Frederick Wilskut tans die leier is, is van mening dat die bewe­rings teen Wilskut ongegrond is en geen meriete het nie,” lui die verklaring.

Die skrywe noem ook dat ’n ondersoek ingestel sal word, maar by navraag was geen kommentaar oor hoe ver dié proses gevorder het, beskikbaar nie. “Ons hoop dat die reg sy gang sal gaan en dat geregtig­heid sal geskied. Ons weet hoe dit voel en hoop dat ander beskerm sal word en dié wat swyg sal praat,” het Jansen bygevoeg.

Wilskut sal weer op 21 Februarie in die hof verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.