Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Selfdood van kollega ruk werkers
PA Venter


Die selfdood van ’n voormalige werknemer van die Worcesterse houtwerkmaatskappy PAV Shopfitters ’n paar dae voor ’n arbeidsgeskil tussen hom en dié maatskappy in die arbeidshof in Kaapstad aangehoor sou word, het werkers hard getref.

Volgens die werkers het Brindley Cremon ’n reuserol in die lewe van die werkers by PAV gespeel en hulle het Vrydag 31 Januarie byeengekom om met sy vrou, Natascha, te simpatiseer en die toekoms te bespreek.

Brindley is op 30 Januarie in alle vermoede weens selfdood oorlede nadat depressie vroeër by hom gediagnoseer is. Brindley was veronderstel om vandeesweek in die getuiebank te wees in ’n saak van onregmatige ontslag wat hy teen drie filiaalmaatskappye van PA Venter gemaak het.

Brindley, wat die vakbondverteen­woor­diger en die B-BEEE-verteen­woordiger op die raad van direkteure van PAV Shopiftters was, is in 2017 ná ’n dissiplinêre verhoor afgedank nadat hy finansiële en ander dokumentasie van ’n rekenaarbediener afgelaai het en aan sy unie en die B-BEEE-kommissie gestuur het.

In die hofstukke wat deur Brindley in die geskil by die arbeidshof ingedien is, word aangevoer dat die drie direkteure van PAV Shopfitters deur die stig van verskeie filiale en trusts geld onreëlmatig in hul persoonlike rekeninge laat terugvloei het en weg van die oorspronklike maatskap­py waarin die werkers van PAV ’n B-BEEE-aandeel gehad het en dividende moes ontvang. Dit het na bewering gelei tot ’n verswakte finansiële situasie vir dié maatskappy wat weer daartoe gelei het dat die werkers weer sedert 2013 nie hul dividende ontvang het nie.

Luidens die hofstukke het die werkers nie ’n aandeel in die nuwe filiale wat gestig is nie.

“Gegewe die inligting wat in ons besit is en verskillende analises wat gemaak is deur ons forensies ouditeurs en ’n ondersoekspan, is ons van die mening dat die saak teen PA Venter Shopfitters wel vrugte sou afwerp. Dit sou dan uiteindelik vir Brindley reg bewys het,” sê Brindley se regsverteenwoordiger, Chris Kilowan.

“Die saak is van die hofrol geskrap terwyl ons gaan kyk na die wenslikheid en regstegniese haalbaarheid van die saak. Brindley was die klaer in die saak en die enigste getuie en dan sou ons forensiese ouditeure ook getuig.”

Nog ’n saak wat ’n groep werkers teen PA Venter Shopfitters ingedien het – wat apart is van die saak van Brindley – duur nog voort.

“Die saak van die ander werkers gaan oor die opsetlike verswakking van PA Venter Shopfitters (Pty) Limited ten einde nie meer winste te maak nie en sodoende nie meer dividende aan Vecto Trade nie (die maatskappy wat die PAV Werknemerstrust se aandele hou). Die dokumentêre bewyse dui daarop dat drie direkteure ’n ingewikkelde skema ontwikkel het om Vecto Trade en dus die B-BBEE-begunstigdes soos oorspronklik deur mnr. PA Venter (die stigter van die maatskappy) in die vooruitsig gestel het, te ontneem van hul regte. Daar is ook valse bewerings deur hierdie direkteure gemaak dat Vecto Trade se 30% aandele nie meer kwalifiseer vir ’n B-BBEE-sertifikaat nie. Die drie direkteure het toe hul prokureurs ’n nuwe struktuur laat stig waarin blindes in Worcester nou 51% aandele in PAV Shopfitters het. Ná deeglike ondersoek het ons vasgestel dat nie een van die aanvanklike oprigters of direkteure blind is nie en hulle het baie noue bande met PAV Shopfitters se direkteure,” voer Kilowan aan.

Op die vergadering is die werkers ook deur hul woordvoerder in kennis gestel dat die geld wat hulle vir regsdoeleindes ingesamel het en in ’n rekening inbetaal het, gebruik is deur die persoon in beheer daarvan.

“Ons gaan die vrou sewe werksdae gee om die geld wat sy sonder magtiging gebruik het terug te betaal, anders gaan ons strafregtelik moet optree,” sê Joanie Visagie-Jantjies, ’n gemeenskapsaktivis wat namens die werkers en familie met Standard gepraat het.

“Brindley was iemand wat gestaan het vir geregtigheid vir die werker by PA Venter Shopfitters. Hoewel hy partykeer alleen die stryd moes voer teen die direkteure, het hy nie teruggestaan nie. Ek persoonlik was by hom in die week net voor Donderdagaand en hy was opgewonde oor die saak.”

Brindly se vrou, Natascha, was ook by die vergadering en na afloop daarvan het sy in ’n onderhoud met Standard haar man beskryf as ’n “mensemens”.

“Ek en die seuns gaan hom baie mis en hy was ’n staatmaker vir ons. Ek weet nie nou hoe ek enigiets sonder hom gaan doen nie. Die liefde wat hy vir sy medemens gehad het, het ek baie bewonder. Hy sou sy laaste sent en tyd gee om iemand anders se lewe te verryk,” het sy gesê.

Brindley word Saterdag 8 Februarie uit die VGK Worcester-Oos begrawe. Die begrafnis sal om 09:00 begin.

. Kliek HIER vir die skakel na die volledige hofstukke van Brindley Cremor.

PAV gee antwoorde

Standard het kommentaar van PAV gekry oor die selfdood van ’n afgedankte werker, Brindley Cremon, en die arbeidsgeskil wat die week in die hof in Kaapstad aangehoor sou word (Sien berig hiernaas).

Luidens beantwoordende hofstukke wat PA Venter ingedien het, ontken die direkteure aantygings van finansiële onreëlmatigheid wat teen hulle gemaak is en sit uiteen waarom elke maat­skappy binne die PAV-groep gestig is.

In die hofstukke voer PAV aan dat Brindley Cremon op ’n onwettige ma­nier die finansiële en ander dokumente in die hande gekry het en het persoon­like inligting soos die salaris van die nuwe direkteur, produksiebestuurder en fabrieks­bestuurder bekom.

Benewens dat Brindley die dokumen­tasie aan sy unie en die B-BEEE-kommissie gestuur het, het hy ook in 2017 Son gekontak en inligting bekend gemaak. Die koerant het op 17 Augustus 2017 oor die aantygings berig.

Die maatskappy het in ’n dissiplinêre verhoor Cremon skuldig bevind aan diefstal van die inligting en dat hy ook die maatskappy deur die verspreiding van die dokumente in ’n swak lig gestel het.

In die hofstukke ontken die direk­teure dat hulle enige geld onreëlmatig deur die maatskappye in hul persoonlike rekeninge inbetaal het.

In die hofstukke voer PAV verder aan dat sy huidige B-BBEE-status heeltemal voldoende is en dat Umbono Equity tans as B-BEEE-meerderheids­aandeelhouer dien, wat bestaan uit “swart mense wat visueel gestremd is”.

Hulle voer verder aan dat Brindley Cremon nooit as B-BEEE- verteenwoordigende lid van die raad van PA Venter aangestel is nie en het dus onreëlmatig opgetree toe hy inlig­ting van ’n maatskappyrekenaar af geneem het.

“Brindley se heengaan is voorwaar ’n tragedie vir almal betrokke, veral vir sy vrou, Natascha, en die seuns. Ons wens hulle alle simpatie en sterkte toe,” sê die uitvoerende hoof van PA Venter Holdings, Fanie Roux.

“ ’n Verdere tragedie van Brindley se heengaan op die vooraand van die arbeidshofsaak tussen hom en PA Venter is dat dit die geskikte geleentheid was om die geskille tussen hom en ons uit die weg te ruim deur ’n onafhanklike en kundige persoon. Toe Brindley die aangeleentheid na die hof verwys het, was ons by PA Venter dankbaar vir die geleentheid om eens en vir altyd die gerugte oor en verdag­makery teen ons die nekslag toe te dien. Daardie geleentheid is ons nou ont­neem en die gerugte, soos vervat in jou voorgenome artikel, duur voort. Dit is jammer en sou vermy gewees het as die hofsaak voortgegaan het.”

. Om PAV se volledige beantwoordende hofstukke te sien, kliek HIER.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.