Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sesjarige sterf ná bendegeweldvoorval

Die sesjarige meisie van Avianpark, wat in April vanjaar in bendegeweld in die kop geskiet is, is Sondag oorlede.

Robinesia Joko was agter in ’n skoolbussie toe bendelede in ’n skietgeveg met die polisielede was en verskeie skote afgevuur is.

“Volgens ooggetuies het Nessie (soos hulle haar genoem het) by die venster gesit en probeer kyk waaroor die warboel gaan. Enkele oomblikke later het ’n koeël haar in die kop getref,” vertel haar ma, Elterisia Joko.

Dié voorval het Robinesia se hele lewe verander. Sy is dadelik plaaslik behandel en na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas, waar sy ’n paar weke deurgebring het. Sy is ver­lam gelaat, haar spraak was aangetas en sy moes deur ’n voeding­sbuis eet.

Robinesia se tante, Desiree Judge, sê hulle is vreeslik geskok oor haar afsterwe.

“Dit was nie ’n maklike jaar nie. Ons ma (Robinesia se ouma) het kort ná hierdie gebeure ’n beroerte gehad en beswyk. Ek onthou nog hoe ons Paasfees gevier het by my huis – net oorkant die pad – en sy het vreeslik gelag. Die skietery was ’n groot skok, maar haar afsterwe was baie onverwags,” sê Judge.

Die afgelope Sondag net ná 05:00 is skote in Kuikenstraat, die straat waar hulle woon, afgevuur. Almal het wakker geword om te kyk wat gebeur en Elterisia het Robinesia se doek geruil.

“Ons het daarna rustig verder geslaap. Sy het aan die slaap geraak met haar handjie in myne en dit sal ek altyd onthou, want toe ek weer wakker word, was haar hande op haar borsie en haar oë was wawyd wakker, maar haar siel was reeds weg,” vertel haar ma aan Standard.

Haar ma en tannie beskryf haar as ’n kind wat altyd gelag en sonskyn in die huis ingebring het.

“Sy was cheeky gewees en het altyd grappies en staaltjies van haar skooldag gedeel. Ná die ongeluk het alles verander en sy was altyd stil, maar sy het darem altyd gesmile. Sy kon ook nie meer praat nie, maar sy het geweet hoe om met my te kommunikeer. Sy het my altyd wakker gemaak deur om my hare of klere te trek,” sê Elterisia.

Robinesia sê die huis gaan baie stil wees en dat Kersfees ’n moeilike tyd vir die gesin gaan wees. Haar gunstelingspeelgoed is ook uitgepak op die bed soos dit altyd was en haar ma sê sy sal altyd haar dogter onthou en hoe sy gelag het as sy met haar speelgoed gespeel het.

Ooggetuies by die oorspronklike skiettoneel het ’n 24-jarige verdagte uitgewys as die skieter wat vir die koeël wat Robinesia getref het, verantwoordelik was.

’n Lykskouing is op Robinesia uitgevoer om die presiese oorsaak van haar dood te bepaal.

“Ons soek net dat geregtigheid moet geskied,” sê Judge.

Robinesia word Sondag 1 Desember uit haar ouerhuis by Kuikenstraat 104 begrawe.

“Ek het ’n polis gehad, maar dit was nie veel nie. Ons is diep dankbaar dat die burgemeester, Antoinette Steyn, ingestem het om ons te help,” sê Robinesia se ma.

Enigiemand wat bereid is om ’n bydrae te lewer, kan Desiree Judge by 074 779 2252 kontak.

“Ons wil nie bakhand staan nie; dit is nie ons bedoeling nie. Ons wil net mooi tot siens sê aan ons dogtertjie wat haar lewe verloor het,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.