Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ma smeek vir nog net vyf minute
Sewejarige verdrink in plaasdam

“Ek het sy lykie gesien lê op die grond. Ek het gehuil en gesmeek dat hulle net nog vyf minute moet probeer om hom te red, maar dit was reeds te laat – nou is my seuntjie dood.”

Dit is die woorde ’n ma wat haar sewejarige seuntjie die afgelope naweek aan die dood moes afstaan toe hy gaan swem het en nooit weer opgekom het in die water nie.

Ralton Stevens (7) het Vrydag in ’n plaasdam verdrink.Foto: Maritsa Horn

Ralton Stevens en ’n maatjie het Vrydagmiddag 6 Desember in ’n plaasdam naby hulle huis in Nonna gaan swem toe hy verdrink het. Sy maatjie het in ’n verklaring aan die Worcester-polisie gesê dat hulle geswem het en heerlik baljaar het, aangesien dit vreeslik warm was. Die volgende oomblik was Ralton nie meer te siene nie.

“Hy was ’n paar meter weg van my, in die middel van die dam besig om te skree en te sukkel. Ek het dadelik soontoe geswem en hom probeer help, maar dit was te laat,” het sy maatjie in die verklaring gesê.

Hy het toe dadelik nabye inwoners gaan roep en nooddienste is na die dam ontplooi.

Ralton se ma, Magdalene Stevens, was by die werk op ’n nabye plaas toe sy die oproep van ’n familielid ontvang het.

“Ek het gehardloop. Ek het nog nooit so vinnig gehardloop nie en gebid dat hy nog met ons sal wees. ’n Boer het my opgelaai en met my gery na die dam. Ek het terwyl die bakkie nog aan was uitgespring en na die ambulanse toe gehardloop. Ek het sy lyk gesien en besef dit is te laat,” het sy ma snikkend aan Standard vertel.

Die verdrinking het die gemeenskap, asook die personeel van Overhex Primêr waar Ralton ’n leerder was, diep geskok.

“Hy was so ’n vriendelike seun. Ek onthou hoe hy altyd gelag het en so breed geglimlag het met sy twee groot voortande. As ek geskel het as hulle kattekwaad aangevang het, dan sou hy sommer die res van die dag soet en op sy plek gewees het. Hierdie gebeure is skokkend – ek het self ’n kind na aan sy ouderdom. Ek kan myself nie indink hoe dit moet voel vir ouers nie,” het Ralton se graad 1-juffrou, Maritsa Horn, aan Standard gesê.

’n Ander onderwyser by die skool, David Davids, het aan Standard gesê dat Ralton vreeslik gemis sal word.

“Hy was ’n goeie atleet en ’n kranige rugbyspeler gewees. Hy was so ’n gedissiplineerde sportseun gewees en ons gaan hom baie mis,” het Davids gesê.

Hy was ’n goeie atleet en ’n kranige rugbyspeler gewees.

“Ek wens ek kon net nie Vrydag gaan werk het nie en ek kon daar by hom wees en dit dalk verhoed het. Hy was my eersgeborene – in ’n tyd waar ek ’n enkelouer was. Nou gaan ons hom vreeslik mis,” het Magdalena bygevoeg.

Ralton se stiefpa, Jarred Coenraad, het in sy lewe gekom toe Ralton drie jaar oud was.

“Hy was ’n seun vol grappe en vol wysheid vir sy ouderdom. Hierdie tref ons diep en ons sal eendag herstel, maar nie vandag nie,” het Jarred gesê.

Ralton word Sondag 15 Desember vanuit sy ouerhuis in Nonna begrawe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.