Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Standard was daar om lesers in te lig

Van ons grootste nuusstories vir die jaar was:

Plaasaanvalle – Verskeie plaasaanvalle het die jaar plaasgevind. Van dié wat ons lesers sal bybly, is die een op Stefan Hugo van Osdrift en sy vrou Pam, wat vreesbevange vir haar aanvallers op die huis se dak moes wegkruip. Vroeër vanjaar is Martin Louw van die plaas Wolwefontein by Tulbagh se plaasbestuurder in sy huis doodgesteek en het hy langs sy vrou gesterf. In nog ’n baie wrede aanval is Farouk Kafaar ernstig beseer toe hy oor die kop geslaan is op die Rainbow-plaas in Brandwacht.

“Pad van die dood” – Tien mense is dood in net vier weke op die stukkie N1-pad van 1 km naby die weegbrug. Dit begin in die volksmond bekend staan as die “pad van die dood”. In nog ’n tragedie is ses mense dood toe die trekker en sleepwa waarop hulle gery het deur ’n sterk stroom water meegesleur is.

Moorde – Talle moordsake het die Vallei in 2018 geruk. Die mees kontroversiële was die saak waarin Elton Weise, ’n sakeman van die dorp, aangekla is van die moord op die informele skrootversamelaar Johannes Jacobs. Byron Maans, die man wat sy vriendin se vierjarige dogtertjie wreedaardig doodgeslaan en -geskop het, is lewenslank tronk toe gestuur. Ook word Magdaleen Titus, ’n ANC-hooggeplaaste van Oudtshoorn, aangekla dat sy haar man, die oud-Worcesteriet Preston Titus, laat vermoor het. Die saak sal vroeg in 2019 begin.

Ook word Peter Pietersen aangekla dat hy sy lewensmaat vermoor en haar liggaam in die boord op die plaas waar hy gewoon het, weggesteek het. ’n Jong, dowe man van NID vermoor in Oktober eers sy eksmeisie voordat hy sy eie lewe neem. Mndeni Mzimelo (23) het sy vriendin, Ntombifikile Sithole (21), herhaaldelik met ’n skerp voorwerp in die maag gesteek en toe sy eie keel gesny. Die vreemde dood van ’n jongman, Thobela Bonda (19), in die berge naby Brandvlei laat talle vrae by sy familie omdat daar vreemde tekens naby die plek gevind is waar sy liggaam gekry is. ’n Pa, Charles Witbooi, wat gemaak het of sy eenjarige seuntjie in onluste beseer is terwyl hy eintlik die kind vermoor het, is lewenslank tronk toe gestuur. Verskeie bendelede is ook tronk toe vir moord, onder andere Deon “Hakel” Smith (34), André “Whitey” Jordaan (32) en Abraham “Allies” Lewies (31). In Maart word die belowende jong rugbyspeler, Devanito “Worsie” Paulse, ná ’n beweerde onderonsie met ’n vriend oor ’n USB-stokkie doodgesteek.

Ons organisasies – By die Instituut vir Blindes kom groot veranderings in 2018. Die naam verander van Kaleidoskoop na Innovation for the Blind en ’n omkeerstrateeg, Albie Heigers, word aangestel. Die sluiting van die afdeling vir loopbaanontwikkeling (ALO) by hulle veroorsaak kontroversie en debat. Verskeie planne is gereed om dit weer lewensvatbaar te maak. ’n Traumatiese voorval het die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) getref toe die Boetman-seunskoshuis deur ’n brand in puin gelê word, maar die gemeenskap span saam om dit weer op sy voete te kry deur skenkings.

Skolenuus – Die skole in die streek gaan van krag tot krag. Touwsrivier Primêre Skool begin sy eie krag opwek. Rogail Joseph, kranige hekkiesatleet van Gimnasium, is ons 2018-wenner van die Let’s Play-kompetisie. HTS Drostdy word 115 jaar oud. Die Hugo Naudé-kunsskool doen ’n projek waarin kunsleerders van Worcester en die stad Aalst in België se werke onderskeidelik op ’n “uitruilgrond­slag” uitgestal word. Hoërskool Zwelethemba behaal groot sukses deur weg te doen met huiswerk en leerders langer ure by die skool te hou. In minder goeie skolenuus word ’n bekende skoolhoof van die streek afgedank nadat hy by ’n leerder aanlê en die druk haar laat vou. Sy probeer haar eie lewe neem, maar is gelukkig onsuksesvol.

DierenuusHans die gans troef ’n kobra in sy eie agterplaas, maar hy is nie die enigste viervoetige slangtemmer in die streek nie. Bertus die kat het sy ounooi, Ané Jordaan van Tulbagh, teen ’n sissende pofadder beskerm. Ook skryf Standard oor die alledaagse helde van Worcester, die gidshonde, soos Ivaan Levendal en sy hond, Mister Lewis. Hendri Herbst, die Paralimpiese swemmer van Worcester, staan vir sy regte op en neem ’n wynplaas hof toe omdat hulle nie sy gidshond wou toelaat nie. Die hele Worcester soek en juig saam toe Kaaitjie, die hond wat uit haar eienaar se erf gesteel is, in ’n afgeleë sinkhut teruggevind is. In baie slegte dierenuus word vyf honde en ’n kat wreedaardig binne ’n tydperk van vyf weke “geslag”.

Toerisme – Toerisme kry ’n hupstoot met die aankondiging dat die Rooi Duiwel-stoomtrein weer deur die Vallei gaan ry. Ook word ’n hele klompie nuwe roetes aangekondig, soos onder meer die erfenistoer vir gemeentes. Worcester-toerisme open ’n kiosk in die Mall en Touwsrivier kry ’n nuwe toerisme­komitee. Standard en dr. Julian Kritzinger se projek om oor vyf weke die vervolgverhaal van Damon die Droster te vertel, lok wyd belangstellig uit. (Die verhaal kan steeds gratis aangevra word by marlene.jordaan@media24.com). Kleinplasie ondergaan groot vernuwing met talle nuwe aanloklikhede vir toeriste. ’n Voorgestelde Mandela-standbeeld by Touwsrivier lok groot debat uit. Goeie sneeuval lok duisende besoekers na die streek.

Sport – Die rugbyliga word eers amper afgestel en toe net uitgestel weens die droogte. Villagers-rugby maak Worcester baie trots deurdat hy as die Grootuitdaagkampioen in die Boland-rugbyliga gekroon word en deurgaan na die Gold Cup-premierrugbyliga in Suid-Afrika. Die klub moes egter ook om verskoning vra nadat van sy lede ’n bietjie luidrugtig geraak het met ’n wegbreeknaweek en daar by sy borg daaroor gekla is. Young Hamiltons gaan ook deur ’n krisis toe sy afrigters kort voor die derbynaweek teen Villa bedank. Persies wen ook sy afdeling in die Boland-rugbyliga. In die algemeen gaan rugby in die streek van krag tot krag. Die Cape Epic draai vanjaar vir die eerste keer deur Worcester.

Onluste – Die Transhex-ontwikkeling deur die stadsraad lei tot arbeidsonrus en betogings op de Villiersdorp-pad. Verskeie diensleweringsoptogte word ook gehou, onder meer in Rawsonville en De Doorns. In Villiersdorp word ses mense vermoor in wat beskryf word as ’n boendoehof-bloedbad uit wraak teen die moord op ’n Lesotho-burger.

Politiek – Die DA wen die tussenverkiesing in wyk 10. Die BO bring verskeie mosies in die raad, onder meer oor beweerde korrupsie met wyksgelde. ’n Ondersoek is hieroor aan die gang. Bheki Cele besoek Worcester se bendegeteisterde gebiede en inwoners sê hy maak net leë beloftes. Gerugte dat die Wes-Kaapse wetgewer Worcester toe gaan skuif, laat almal regop sit.

Die droogte knel, maar dit gaan later beter en waterbeperkings word verslap. Kapenaars kom steel water in Worcester, nadat hulle aan erge beperkings onderhewig is. Laingsburg se boere is op hul knieë.

Ons helde – Die eienaar van ’n natuurreservaat in die Matroosberg, Didi de Kock, se heldhaftige optrede het die lewe van John Roberts gered toe hy ’n brand help beveg het. Sy het Roberts, wie se vel “soos lappe gehang het” aan sy belt opgetel, op haar motorfiets gelaai en na veiligheid gejaag. Die deeglike ondersoekwerk deur ’n bekwame polisieman, speurkonstabel Johan Saayman, het daartoe gelei dat Charles Witbooi twee keer lewenslange tronkstraf ontvang het vir die moord op sy eenjarige seuntjie. Willem George het op die ouderdom van 60 vir oulaas uitgedraf vir sy span Orchard RVK. Oom Willem het op 16 begin rugby speel en 44 jaar later besluit hy eers dis tyd om sy rugbystewels op te hang. Ken McIntyre, ons persoonlike held in die kantoor en welbekende koerantmens, tree af ná 38 jaar in die mediabedryf. Ons wens hom alles van die beste toe vir die toekoms. ’n Verpleegster van Ceres, Sharon Lind, het 6 Julie, die dag toe dit so erg in dié dorp gesneeu het, ’n vrou, haar baba en ’n hond se lewe gered. Cheske Maredine Booysen (25) is 1 Mei verlede jaar op die N1 deur ’n motor raakgery. Was dit nie dat Tiaan de Vos van Med-Life Paramedics toeval­lig op daardie oomblik daar verbygery het nie, sou sy dit waarskynlik nie gemaak het nie. ’n Emosionele reünie het daarna in Worcester plaasgevind toe sy hom bedank het. ’n Jong man,

Monroe Pienaar (alias Blueprint), ’n jong danser van Roodewal, gaan New York toe om by die International Arts Talent Showcase (IATS) te gaan deelneem. Hy is ’n bewys dat jou omstandighede jou nie hoef terug te hou nie.

In ander nuus – ’n Vreemde metaalstuk val deur ’n huis in Van Riebeeckpark se dak en niemand weet wat dit is nie.

En einde ten laaste: Oompie het steeds nie uitbetaal nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.