Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Roof by Shoprite eis bestuurderes
‘Sy het hard vir ons gewerk’

shoprite Beatrice Manuel
Beatrice Manuel (54), wat Sondagoggend in ’n rooftog by Shoprite in Zwelethemba doodgeskiet is, se suster Debbie Helm en skoondogter Marilyn Manuel omhels mekaar op die moordtoneel. Agter is haar broer Andrew Klein en niggie Sharina Lotterie.

FOTO: Brümilda Swartbooi


Haar harde werk by die Shoprite-groep het 35 jaar lank gesorg dat haar twee seuns vir ’n tandarts en radiografis kon leer. Haar werk het ook haar broers en susters help grootmaak.

Maar Sondagoggend het dié toewyding tot ’n einde gekom toe Beatrice Manuel (54) in ’n rooftog by Shoprite in Zwelethemba doodgeskiet is.

Sy het eers by Shoprite in Russellstraat, asook die U-Save in Durbanstraat, gewerk.

“Toe ek jonger was, het ek altyd ná skool tot by die Shoprite in Russellstraat gegaan en daar vir my ma gewag,” onthou haar jongste seun, Dillon, die tandarts.

My ma het voorraad getel tot agtuur in die aand terwyl ek my huiswerk in die stoorkamer gedoen het.

Beatrice was tot nou die bestuurder van Shoprite in Zwelethemba. Dit is hier waar sy Sondagoggend kort nadat haar man, Arnold, haar afgelaai het, koelbloedig in ’n gewapende rooftog doodgeskiet is.

Arnold sê toe hy op die toneel kom en die forensiese eenheid sien, het hy geweet iets is fout.

Die Manuel-gesin met ’n foto van hul ma, Beatrice. Van links is Dillon, Arnold en Nathaneul. Foto: Brümilda Swartbooi

Hy en Beatrice is boorlinge van Worcester en die egpaar was 27 jaar lank getroud.

Arnold sê Beatrice was sy en die familie se anker en sy het selfs deur moeilike tye getrou aan sy sy gebly.

Nuus oor haar dood het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Beatrice was die matriarg wat haar familie gelei het. “Sy was ’n mensemens. Sy het altyd seker gemaak die familie bring saam tyd deur. Ons kan haar nie in ’n boks druk nie. Sy het te veel goeie eienskappe gehad. Baie mense praat met groot lof van haar en dit spreek boekdele. Sy laat ’n groot leemte,” sê Beatrice se oudste seun, Nathaneul, wat vandag as radiografis werk.

Die familie is steeds in rou gedompel. Dillon het ’n baie nou band met sy ma gehad.

“My ma het seker gemaak ek het als. Ek wou net meer tyd saam met haar gehad het. Ek besef nou hoe hard sy vir ons gewerk het. Sy is my alles. Maar soos my boeta gesê het, ons moet net haar nalatenskap voortleef. Sy was lief vir almal en sy het hard gewerk. Haar jongste broer is ook nou geleerd. Sy het ook vir haar broers en susters gewerk. Die min geld wat sy destyds verdien het, het sy vir hulle gegee. Sy het altyd almal ‘uitgesort’,” sê Dillon.

Volgens ’n woordvoerder van Worcester se polisie, kapt. Lindikhaya Mkhontwana, het die verdagtes na bewering die twee veiligheidsbeamptes van hul selfone beroof.

“Daarna is Beatrice na die kluis geneem en die veiligheidsbeamptes het die skote gehoor,” sê Mkhontwana.

Hy kon nie bevestig hoeveel verdagtes by die rooftog betrokke was nie.

Intussen het die polisie twee verdagtes – onderskeidelik 49 en 36 jaar oud – in hegtenis geneem.

Die 49-jarige man is met die selfone en die vermeende moordwapen in sy besit betrap en het reeds in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.

Beatrice word deur haar man en seuns, ’n skoondogter, een kleinkind, twee broers, twee susters en haar ma oorleef.

Twee roudienste word vandag gehou – 16:00 in Zwelethemba en 19:00 in Saliestraat in Riverview.

Beatrice se begrafnisdiens is Saterdag 09:00 by haar huis in Govnerstraat in Somersetpark en 10:00 by die VGK Worcester-Suid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.