Talle bekende Valleiers is die afgelope enkele dae oorlede. Benewens die president van Boland-rugbyunie - wie se oorsaak van dood nog nie amptelik bekend gemaak is nie – is almal aan Covid-19-verwante oorsake dood.
Standard het verlede week berig oor die skoolhoof van HTS Drostdy, Arthur Underhay, wat oorlede is. In die afgelope paar dae het nog bekende Valleiers te sterwe gekom, onder andere Ivan Pekeur, Malcolm September, Suliman Salie en Japie en Catharina ( Babs) Rabie.

Wyle Ivan Pekeur
Ivan Pekeur (68), die president van die Boland-rugbyunie was oorspronklik van Montagu waar hy tot en met sy skielike heengaan nog gewoon het. Hy was ‘n onderwyser van beroep en later ook skoolhoof en was voor die politieke eenwording vir ‘n termyn die burgemeester van Montagu. Na sy speeldae vir Montagu Villagers, as skeidsregter en later bestuurslid van Boland, word hy verkies tot president van Boland-rugby. Sy huidige termyn sou eers in 2023 verstryk het. Hy was getroud met Dinah en laat verder twee dogters en twee seuns, asook vier broers en drie susters na. Die oorsaak van Pekeur se dood is nog nie amptelik bekend gemaak nie. Sy diens sal lewendig gestroom word weens Covid-19-regulasies.
Malcolm (Melly) September (62), ‘n oud-rugbyspeler van Worcester Villagers-rugbyklub, was eers bestuurslid en word later ook tot voorsitter van die klub verkies. Hy was ten nouste verwant aan een van die stigters van die klub in 1883, wyle Oom Hansie September, sy oupa. Hy was baie betrokke in VGK Gemeente Worcester-Oos, onder meer die kerkraad en -koor. Hy laat sy vrou Sandra, drie dogters en drie kleinkinders na. Sy skoonseun Ashley Dreyden, speel eers vir Villa en word later kaptein van Robertson RFK ( 2019). Die gesin het gister ( Dinsdag 29 Desember) ‘n verbyry-roudiens gehou waaraan omtrent 400 motors in konvooi deel gehad het. Melly word Donderdag (31 Desember) om 12:00 uit die VGK Worcester-Oos begrawe. Sy diens word ook lewendig gestroom.

Wyle Malcolm September
Catherina ( Aunty Babs) en Japie ( Oom Jaap) Rabie het 'n dag uitmekaar ( 27 en 28 Desember) afgesterwe. Albei was tot en met hul aftrede as nie-doserende personeel verbonde aan Worcester Sekondêre Skool. Die egpaar was egter veral bekend vir hul liefdadigheidswerk in hul gemeenskap, veral in Hexpark, en ook aktief betrokke by gemeenskapsaksies in hul gemeente , die Methodiste-kerk in Afrikastraat.
Suliman Salie was vir jare 'n bekende gesig in die Breedevallei as ambulansman. Na sy aftrede het hy die rol van lykbesorger van die Moslem-gemeenskap oorgeneem en het hy met deernis en groot empatie die rol vervul. Vanaf die afhaal van die afgestorwenes se oorskot, voorbereiding en gereedmaak tot die teraardebestelling volgens Moslemgebruike in samewerking met die betrokke families van die afgestorwenes.
Standard sal in sy eerste uitgawe van 2021 (wat 14 Januarie op die rakke sal wees) meer volledig berig oor die bekendes en bemindes wat die afgelope feestyd geraak is deur die pandemie.