Hulle dans nou net ’n bietjie langer as ’n jaar, maar die rieldansers van die Kibbutz het gewys wat in hulle steek en is op pad na groot sukses.
Die groep van 86 dansers, bekend as die Vallei Trappers, het vir die eerste keer verlede jaar in September saam begin oefen en dans. Hulle het met ywer gedans laat die stof so staan. Selfs kinders van twee jaar is deel van die dansgroep.
“Ons het kinders van Roodewal Primêre Skool en nog ander kinders uit die gemeenskap wat saam dans. Altesaam 86 kinders van verskeie ouderdomme maak deel uit van ons groep. Hulle is baie entoesiasties en ander kinders stel ook belang om deel van die groep te wees,” verduidelik Nicolene Damons, wat die kinders afrig. Sy is al sedert 2010 betrokke by die afrig van dié tradisionele dansstyl.
Saterdag 3 Augustus het die Vallei Trappers aan hul eerste kompetisie-uitdunne by Kleinplasie deelgeneem.
Een van die o.14-spanne het na die halfeindronde deurgedring en een van die trappers, Rowan Pemberton, is as die beste rieldanser van die dag aangewys.
Rowan vertel dat hy ’n bietjie senuweeagtig was toe sy naam geroep is, maar dat dit een van sy beste dae was.
Die halfeindronde het Saterdag 9 November in Clanwilliam plaasgevind. Dié groep het ongelukkig nie die eindstryd gehaal nie. Een van hul dansers is wel weer as beste danser vir die dag aangewys. Veronique Adams sê sy was baie opgewonde toe die aankondiging gemaak was.
“Ek kon nie glo dat ek, wat maar net ’n jaar dans, só iets kon wen.”
Baie opgewonde vertel sy hoe lief sy vir rieldans is: “Dis iets wat ons voorvaders gedoen het, so dit maak dit soveel meer spesiaal vir my.”
Dié twee dansers stem saam dat hul betrokkenheid by die Vallei Trappers hulle uit die moeilikheid hou.
Nicolene nooi enigiemand wat in rieldans belangstel om by hulle groep aan te sluit. “Jonk en oud is welkom om hul rielvernuf te kom wys, en selfs om te leer hoe om te trap.”
. Bel haar by 079 895 6081 of Veronica Adams by 084 741 8177.