Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Verkeersbeampte (27), twee inwoners sterf in ongeluk
ongeluk willis smith


WORCESTER – ’n Oproep wat geen familie verdien om te ontvang nie. ’n Oproep wat ’n mens se menswees sò diep ruk dat dit jou lam laat.

Dit was die oproep wat twee families in Worcester op Vrydag (16 Oktober) ontvang het. Worcester is in rou gedompel na ’n grusame ongeluk wat die lewens van een verkeersbeampte en twee inwoners geëis het.

Owerhede het ongeveer twee-en-’n-half uur op die toneel deurgebring en die pad was vir die duur van die opruimingsproses gesluit.

Willis Smith (jr.) (27), ’n bekende inwoner en verkeersbeampte van die dorp, het in die ongeluk omgekom. Smith was op pad na ’n ander ongelukstoneel toe die ongeluk plaasgevind het. Edwina Rheenis (43) en haar dogter, Stephy Rheenis (17) het ook in die ongeluk gesterf.

“Ek was Vrydagmiddag in konstante kommunikasie met Edwina na werk omdat sy vir my in die middedorp moes kom haal. Ure het egter verby gegaan terwyl ek vir haar gewag het en ek het begin bekommerd raak,” vertel Edwina se lewensmaat, Anescka Klaasen.

Klaasen het met Standard se besoek in trane vertel hoe sy Edwina sal onthou en het gesê dat sy nie nou weet hoe sy gaan aangaan sonder haar nie.

“Sy laat ’n reuse leemte in ons lewens en ek het ’n persoon in my lewe verloor wat ek altyd teen alle tye op kon staatmaak,” het Klaasen bygevoeg.

Edwina het haar dogter, Stephy, ’n gr.11 leerder by Esselenpark Hoërskool, by die skool gaan oplaai en na die winkelsentrum gegaan.

Sy het vir my gesê dat sy die kinders soek in die winkelsentrum en dat sy dan vir my sal kom optel. Ek het toe aanhou wag, maar hulle het nooit vir my kom kry nie

“Sy het vir my gesê dat sy die kinders soek in die winkelsentrum en dat sy dan vir my sal kom optel. Ek het toe aanhou wag, maar hulle het nooit vir my kom kry nie.”

’n Familievriend het vir Klaasen in dorp opgemerk en van die ongeluk ingelig. Hulle is onmiddellik na die ongelukstoneel toe.

“Ek het toe gedink dat sy eers die kinders by die huis afgelaai het na hul uitstappie na die winkelsentrum. Maar toe ek op die toneel kom en besef dat hul almal betrokke was, het ek net daar inmekaar gesak.”

Stephy Rheenis
Wyle Stephy Rheenis (17)
edwina
Wyle Edwina Rheenis (43)

Standard verneem daar was vier insittendes in die wit Toyota Corolla, waarvan twee op slag dood is en die ander twee – Edwina se oudste dogter, Stella, en ’n vriend, Ebrahim Williams – is vir mediese behandeling na die hospitaal toe.

“Stella en Ebrahim is tans in ’n stabiele toestand en ons wag maar om vir hulle te kan sien,” het Klaasen aan Standard gesê.

“Sy laat ’n reuse leemte in ons lewens en ek het ’n persoon in my lewe verloor wat ek altyd teen alle tye op kon staatmaak. Edwina was altyd dieselfde persoon,” het Klaasen afgesluit.

ongeluk willis smith
Die Worcester/Nekkies pad was vir die duur van die opruimingsproses gesluit. Foto: Yasar Ismail/Worcester Breakdown Services
ongeluk willis smith
Inwoners van Avianpark in Worcester het self kom kyk terwyl die owerhede hul werk voortgesit het. Foto: Yasar Ismail/Worcester Breakdown Services

Klaasen het ook hul medelye teenoor die Smith-familie uitgespreek.

Die Smith-familie was met Standard se besoek baie emosioneel en kon nie enige woorde uiter nie. Die familie se seer en pyn was duidelik te sien.

Wyle Willis was die middelkind en enigste seun van Shirley en kol. Willis Smith (sr.). Hul twee dogters se trane het met Standard se besoek saam gevloei.

“Hy was ’n lieflike seun en was baie lief vir sy twee susters en susterskind. Hy het altyd vir my met respek behandel en ek het my regterhand verloor,” skryf Willis se ma.

Sy voeg by dat hy ’n mensemens was en baie vriende gehad het. Hy het in 2016 as ’n volwaardige verkeersinspekteur gekwalifiseer.

“Hy het altyd ’n groot passie gehad vir die wet en het sy studies op universiteit, waar hy in besigheidsbestuur studeer het, opgeskop om sy passie te volg,” skryf Shirley.

Wyle Willis Smith (jr.)

Hy het op skool ’n voorliefde gehad vir rugby en krieket. Op Hoërskool Montana het onderwysers na hom verwys as ‘Barack Obama’.

“Elke dag dieselfde mens, elke dag met ’n glimlag op sy gesig en het nooit ’n skewe woord van enige een geuiter nie. Hy het altyd sy jongste suster herinner dat hy trots is op haar vir als wat sy tot dusver in die lewe vermag het.”

“Ons almal is baie geskok met sy sterfte en ek kan nie glo ek het my lieflingseun op so ’n tragiese wyse verloor nie.”

Willis (sr). mis sy seun reeds en sal altyd vir hom onthou vir die respek wat hy op ander afgedwing het omdat hy soveel respek aan ander betoon het.

“Die Here het een van sy blomme kom haal. Willis se voetspore, vingerafdrukke en hartsafdrukke leef voort. Ons dink aan albei families wat deur die ongeluk geaffekteer is,” het die uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn, geskryf.

Willis se voetspore, vingerafdrukke en hartsafdrukke leef voort

“Op die stadium word ’n saak van strafbare manslag ondersoek. Dit volg nadat ’n ongeluk omtrent 14:45 op die Worcester/Nekkies-pad, wat aansluit by Durbanstraat, plaasgevind het,” het die woordvoerder van die Worcester-polisie, sers. Annelize October gesê.

Die gesinne doen ’n beroep op die gemeenskap om respek te betoon teenoor die naasbestaandes van die oorledenes en nie nou te spekuleer oor die oorsaak van ongeluk nie.

Lees meer in die week se gedrukte uitgawe van Worcester Standard.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.