Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Videoman vasgetrek; reeds in hof

WOLSELEY – Die man wat op ’n video vasgevang is terwyl hy bo-op iemand sit en hom aanrand, is in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat.

Standard het vroeër berig oor ’n video van die voorval wat Saterdag 22 Augustus afgespeel het. Dié video het inwoners van die dorp rooi laat sien omdat die man teen verlede Maandag nog nie in hegtenis geneem is nie.

Hoewel dit in die beeldmateriaal onduidelik is wat gebeur het, het die polisie later verduidelik die man is ’n buurtwaglid. Hy het ’n baan in die Kluitjiekraalpad met sy bakkie afgesper, want die buurtwag was op soek na vermeende diewe. ’n Jongman het stilgehou om hom te vra om sy bakkie te verwyder, en ’n bakleiery het gevolg.

Die bestuurder van die bakkie beweer hy is in die in die heup gesteek en die 26-jarige jong man is hospitaal toe geneem met erge kopbeserings. Intussen is die saak aan ’n polisiebeampte van Tulbagh oorhandig.

Volgens sers. Meryll Africa, woordvoerder van die Wolseley-polisie, het die bakkie se bestuurder Vrydag 28 Augustus in die hof op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer verskyn.

“Die saak is aan ’n Tulbagh-beampte oorhandig vir deursigtigheid en omdat dit so ’n sensitiewe saak is. Die bakkiebestuurder is op R1 000 borgtog vrygelaat en aangeraai om hom nie in dié tyd in Wolseley te bevind nie. Ek kan ook nie in hierdie stadium sê of hy ’n saak teen die jong man gemaak het of gaan maak nie,” verduidelik sy.

Die jong man, wat op die video op die grond lê, is verlede Donderdag uit die hospitaal ontslaan.

“Ek voel nou baie beter. Dis nog net my ribbes wat seer is en wanneer ek in die oggend opstaan, het ek hoofpyn. Maar die dokter het gesê ek het geen permanente skade as gevolg van my kopbesering opgedoen nie,” verduidelik hy.

Bradley de Bruin vertel aan Standard hoe dinge daardie naweek verloop het.

“Ek en ’n vriend het Vrydagaand by ’n winkel gestop. Ek wou ingaan, maar het nie besef ek het nie my masker op nie. Die vrou in die winkel het gesê ek mag nie inkom sonder ’n masker nie, maar dieselfde man wat my aangerand het, het saam met ’n vriend in die winkel gestaan en hul albei se maskers was onder hul kenne terwyl hulle met die vrou gepraat het. En dis toe ek vra maar hoekom sy vir my so sê, maar dié twee mans staan so en praat. Ons het daar al woorde gewissel en ek het net weggestap, want ek het besef wat is aan die kom.”

Die volgende aand het die grusame aanranding plaasgevind.

“Die persoon wat saam met my gery het, het vir my gesê dat die bakkie agter ons gery het. Dit het ons verbygesteek en voor ons afgetrek. Ek het dit nie besef nie. Toe ek gaan vra wat aangaan, het die man my net begin slaan. Ek het die man onder geen omstandighede [met iets] gesteek nie. Later het een van die werkers by die winkel, waar ons die vorige aand was, gesê die man het die Vrydagaand al gesê hy gaan my slaan.”

Oor die feit dat die polisie so lank geneem het om die man in hegtenis te neem, sê De Bruin: “Ek is eintlik teleurgesteld in die polisie dat hulle nie hul werk spoedig gedoen het nie. Daar is ook ’n saak teen hulle gemaak vir die trae manier waarop hulle die inhegtenisneming hanteer het.”

Standard het reeds twee keer na die beskuldigde probeer uitreik vir kommentaar, maar het teen druktyd nog geen terugvoering ontvang nie.

Die volgende hofverskyningsdatum van die beskuldigde is Donderdag 17 September.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.