Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Beskuldig van wangedrag by opskopnaweek
Villa dalk borg kwyt

Die Villagers-rugbyklub se borgskap is in die gedrang nadat ’n klag oor spelers se beweerde wangedrag by ’n “opskopnaweek” in Arniston Maandag by sy borg van langer as 15 jaar, OneLogix United Bulk, ingedien is.

Verder, in ’n ander voorval wat dieselfde naweek plaasgevind het, het ’n Facebook-inskrywing van die huidige Boland Klubrugby-kampioen sosiale media behoorlik aan die gons gehad.

In dié Facebook-inskrywing, wat Sondag 25 November op Villagers se amptelike Facebook-blad gemaak is, word die BP-geriefswinkel by die vulstasie op Bredasdorp van rassisme beskuldig.

Die inskrywing met ’n foto van spelers wat voor die BP se winkel se deure staan, lui “hoe rassisties kan mens nog wees in ’n nuwe Suid-Afrika?”

In die inskrywing beweer die skrywer dat die winkelpersoneel die deure toegemaak het toe die bus daar stop. Die inskrywing is intussen van Facebook verwyder.

Luidens die klub se Facebook-blad was die klub die afgelope naweek op ’n amptelike klubuitstappie na Arniston toe die voorval gebeur het.

Die naweekuitstappie van die klub was ten volle betaal om spelers, bestuur en die afrigterskorps te trakteer en te vergoed vir hul goeie vertoning op die veld hierdie rugbyseisoen en hul titel as die Boland-klubrugbykampioen te vier.

“Iemand van die publiek het ons eers Maandag 26 November in kennis gestel van die gedrag van die spelers van Worcester Villagers terwyl hulle weg was in Arniston die afgelope naweek,” het Lourens Roux, die algemene bestuurder van OneLogix United Bulk, Dinsdag aan Standard gesê.

Roux sê hulle het onmiddel-lik die bestuur van Villagers gekontak omdat hulle dit in ’n baie ernstige lig sien. “OneLogix distansieer hom van hierdie gedrag en is betrokke om die onaanvaarbare voorval te ondersoek. Dissipline en gedrag van die klub was nog altyd ’n vereiste voorwaarde tot die borgskap,” voeg Roux by.

Volgens John Vergotine, die voorsitter van Villagers, is hard gepraat, maar is geen vuil taal gebruik nie. “Die spelers het hulle geniet. Ons weet wanneer ’n drankie betrokke is, raak die stemme dik en word hard gepraat, maar dit was baie ver van wangedrag,” sê Vergotine. Oor die voorval by die BP-vulstasie in Bredasdorp sê Vergotine hulle het Sondag-middag ná 14:00 op pad Worcester toe by die vulstasie stilgehou. “Toe ons daar stilhou was die deure van die winkel by die vulstasie nog oop, maar toe die spelers uit die bus klim om na die winkel te gaan, is die deure toegemaak. Ons weet nie hoekom nie en die petroljoggies het net hul skouers opgetrek,” sê hy.

Hy sê verder geen “konfrontasies” het voorgekom nie.

Die manne het die naweek geniet en dis nie lekker hoe alles geëindig het nie
John Vergotine - Villa-voorsitter

Die bestuur van BP sê hulle kan nie nou kommentaar lewer nie, maar hulle ondersoek die beweringe.

Verder het OneLogix se Roux gesê die maatskappy het ooreengekom dat hulle terugvoer en aksieplanne binne 24 uur van die klub af sal ontvang. “Dit wat gebeur het, is vir ons as maatskappy betreurenswaardig en ons verwag dat die Villagers-bestuur die saak behoorlik ondersoek en die nodige stappe sal doen,” sê hy. Vergaderings tussen OneLogix en Villa se bestuur is aan die gang om die kwessie te bespreek en Standard sal oor die uitslag daarvan berig.

Die kaptein van Worcester Villagers, André du Toit, het Woensdagoggend aan Standard gesê dat die meerderheid (omtrent 13) van die senior spelers nie saam op die naweek weg was nie. Hy het Dinsdag iets gedeel oor wat dit beteken om ’n Villa te wees. “Villagers Worcester is ’n trotse klub met ’n ryk kultuur en geskiedenis – 135 jaar van trots en respek is die hoeksteen van hierdie kampioenklub. As jy die trui aantrek, vereis dit respek van jou as die speler eerste. ’n Villa-speler het die verant­woordelikheid teenoor sy spanmaats, teenstanders en die gemeenskap en die publiek as geheel. As senior rugbyspeler is ek verbind tot die respek wat saamkom as ’n Villagers-speler. Daarom is ek sterk [gekant] teen enige speler, ondersteuner of bestuur wat hulself aan swak gedrag skuldig maak. Ek voel sulke mense moet verant­woordelik gehou word vir hul optrede en dit moet dienooreenkomstig deur die bestuur hanteer word.”

Volgens die uitvoerende hoof van die Boland-rugbyunie, Cassie Carstens, is hulle Dinsdag verwittig van die voorval en sal hy eers later kan kommentaar lewer aangesien hulle nog die saak ondersoek.

Standard sal dit publiseer sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Worc  |  Borgskap Villagers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.