Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vlieglarwes gee boerdery dalk heel nuwe betekenis

’n Opwindende onderneming net buite Worcester by die R43 is besig om nuwe lewe aan die term boerdery te gee.

As ’n mens dink aan boerdery, is die eerste gedagte wat by jou opkom dié van wingerde, beeste, mielies en allerlei ander plantasies en diere wat kenmerkend is aan ons land, maar Ivan Mare, die eienaar en direkteur van Proticycle, is besig om dit ’n nuwe dimensie te gee met sy vlieglarwe-aanleg langs die Villiersdorp-pad.

“Ek het geleenthede gesoek om iets anders te doen en iets te doen wat die omgewing help en ’n behoefte die hoof bied. Ek het Proticycle net ’n bietjie minder as ’n dekade gelede begin en is nou sowat twee jaar in die Worcester-omgewing.”

Proticycle se mark is hoofsaaklik in die buiteland gesetel en hy werk met die sortering, selektering en kultivering van vlieglarwes van die magtige, dog minder bekende soldaatvlieg (Hermetia illucens). Die eindproduk is ’n larwe wat bestaan uit 50% proteïen en 50% gesonde vette.

“Ná die paarproses van dié vlieg word eiers uitgebroei. Dan volg die larwe. Daardie larwes word dan hoenderkos en visvoer as gevolg van die goeie samestelling van proteïen en vet. Ons vervaardig dit selfs dat dit in hondekos gebruik kan word. As die vlieg, wat net 18 dae leef, vrek, word dié vlieë dan na ’n maatskappy geneem wat van die voedingstowwe onttrek en opneem. Dié produk word in die mediese bedryf gebruik vir salf wat onder meer bedsere kan genees of behandel,” verduidelik Mare.

Wetenskaplikes voorspel dat sowat 9,6 miljard mense teen 2050 in die wêreld sal wees. Met die opkoms en groei van die middelklas word verwag dat die verbruik van diereprodukte met tot 70% sal styg – en dit met dieselfde beperkte hulpbronne wat vandag bestaan.

Die koste van die produksie van landbougewasse soos mielies en soja om hierdie diere te voed, sal ook na verwagting toeneem en meer uitdagend word met die aanvang van droogtes en stygende temperature.

Hoewel die wetenskap daarop gefokus is om meer droogtebestande gewasse deur genetiese ingenieurswese te ontwikkel, kan daar ’n eenvoudiger alternatief wees: die vlieg.

Die swart soldaatvlieg is ’n kosmopolitiese spesie wat op elke vasteland in die wêreld, behalwe Antarktika, aangetref word.

Hierdie spesie kan gesien word in die komposbak in jou agterplaas, aangesien dit doeltreffende ontbinders van organiese materiaal is.

Die swart soldaatvlieg is eers in 1758 die eerste keer in die wetenskap aangeteken en sy ware potensiaal is eers in die 1900’s deur wetenskaplikes in Australië, Kanada, Indië, Suid-Afrika en die Verenigde State ontdek.

Die swartsoldaatlarwes is getoets en is as voedsame en volhoubare landbouvoedingsproduk geëien.

Hierdie spesie is spesifiek gekies as gevolg van sy vurige eetlus, met een larwe wat ’n halwe gram organiese materiaal per dag vinnig kan verwerk en verorber.

Trouens, die larwes kan ’n wye verskeidenheid huishoudelike afval vreet, insluitend verrotte vrugte, groente, vleis en – as dit dringend nodig is – selfs mis, en dit vinnig in ’n ryk bron van vette, olies, aminosure, kalsium en proteïene omskep.

“Dit is waarop ons fokus en ons en ons span is verheug oor die werk wat ons doen. Die inperking het ’n groot impak op ons onderneming gehad – spesifiek uitvoer – maar nou is dinge weer op dreef. Ons is opgewonde oor die toekoms en die groen voetspoor wat ons agterlaat met die werk wat ons doen,” sê Mare aan Standard.

Interessant genoeg is die verwerkte en halfgedroogde larwe nie net geskik vir diere nie, maar ook vir die mens. Standard het een of twee van die larwes verorber en die smaak was verbasend interessant.

“Dit is ook vir ons fantasties om werkskepping te kan toepas en ons probeer ook verder ons eie navorsing doen. Ons hou babers aan om die effek van die larwe as viskos te toets en het ook groentetuine geskep om die proses te bevorder.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.