Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vrae (en antwoorde) oor behuisingsprojek

Die omstrede Transhex-behuisingsprojek is een wat nog baie vrae by talle inwoners in Worcester laat.

Dr. Julian Kritzinger, raadslid en koukusvoorsitter van die DA, het na afloop van die raadsvergadering op 19 April terugvoering oor die projek gegee.

Kritzinger verduidelik volgens Eileen Sheldon, burgemeesterskomiteelid vir behuising en menslike nedersettings, is Transhex ’n vlagskipprojek wat duisende mense in die Breedevallei volwaardige huiseienaars gaan maak.

“Huiseienaarskap, waarvoor Breedevalleiers kaart en transport gaan kry, gaan mense ekonomies en sosiaal bemagtig,” sê Sheldon.

Volgens Kritzinger het die provinsie ’n omgewingsimpakstudie gedoen en is dit as geskik vir huisvesting uitgewys.

“Boonop is die grond ideaal geleë naby die nywerheidsgebied en sentrale sakekern. Ander beskikbare grond is óf alreeds deur die ruimtelike ontwikkelingsraamwerk vir ander behuising uitgesit óf lê onder die vloedlyn,” sê Kritzinger.

Die party Breedevallei Onafhanklik (BO) meen heelwat foute is begaan met die omgewingsimpakstudie.

“Ons praat tans met die gemeenskappe, regskenners en wetenskaplikes om te bepaal of ons die hooggeregshof kan nader sodat hy die omgewingsimpakstudie kan hersien of tersyde stel.

“Die ontwikkeling is geleë waar daar moontlik besoedelde grond is, omdat die gebied juis gebruik is vir die afvloei van nywerheidsafvalstowwe. Verder bevraagteken ons dat daar in so ’n groot gebied slegs ses grondmonsters geneem is. Die ontwikkeling is glad nie naby Worcester se sakekern soos genoem word nie, maar dit is aan die rand van Worcester langs nywerhede wat die omgewing besoedel,” sê Nik Wullschleger van die BO.

Jonathan Marthinus, direkteur van openbare veiligheid en gemeenskapsontwikkeling by die Breedevallei-munisipaliteit, verduidelik dat so ’n ontwikkeling aan verskeie toetse onderwerp word.

“Die grond is ingevolge die munisipale raad se soneringskema as “onbepaald” (undetermined) gesoneer. Dit is nou met die nodige grondontwikkelingsprosesse vir dié projek gesoneer.

“Alle behuisingsontwikkelings moet deur verskeie studies gaan. Dit sluit onder meer in die geotegniese ondersoek van die grond en grondanalises. Dié ondersoeke gee leiding ten opsigte van die ontwikkelingspotensiaal,” sê Marthinus.

Volgens Sheldon word daar tans erwe vir die projek uitgemeet.

“In Junie sal die provinsie met die tenderproses vir die oprigting van die huise begin,” sê sy.

Kritzinger verduidelik dat die nuwe erwe (enhanced service sites) ten volle gediens sal wees met water, riolering en elektrisiteit.

Dit is beskikbaar vir mense wat nie kwalifiseer vir ten volle staatsgesubsidieërde huise nie en stel dan daardie inwoners in staat om hul huis self te bou of self finansiering van hul werkgewer of elders te bekom om hul huis of struktuur van hul keuse te bou.

Wullschleger sê “ons erken dat hierdie erwe gediens is, maar ons dink raadslid Kritzinger vergeet om te noem dat die erwe bitter klein is: 12 m by 10 m om presies te wees. Ons het dit op goeie gesag dat die munisipaliteit dit sal oorweeg om twee hokke op elke erf te sit. Mense sal opslaan wat hulle kan bekostig, so dit beteken ’n wendyhuis of ’n hok.”

Marthinus sê dis onwaar dat daar twee hokke op elk van dié erwe sal wees.

“Die idee is dat elke persoon sy eie erf, wat ten volle gediens is, ontvang. Indien die persoon kwalifiseer, sal die erf aan hom of haar oorgedra word,” sê Marthinus.

Volgens Sheldon is die Transhex-projek juis uniek omdat dit Breedevalleiers uit alle inkomstevlakke wie se name op die munisipale behuisingswaglys is, help. Dit is in lyn met die behuisingsadministrasiebeleid wat deur die raad goedgekeur is.

“Transhex is nie ’n unieke benadering nie. Avianpark is ook ontwerp om ’n ‘unique gray’-behuisingsprojek te wees met huise vir verskillende rasse en inkomstegroepe. Die eksperiment daar het grootliks misluk, met ’n groot sosiale impak en mense wat uit Avianpark vlug as gevolg. Ons reken dieselfde sal gebeur met Hexpark, Johnsonspark en Transhex,” sê Wullschleger egter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.