Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vrae oor hoe matrieks kan skryf

Verskeie skoolhoofde in die Breedevallei is bekommerd dat graad 12-leerders nie die regte voorbereiding vir hul eindeksamen gaan kry nie.

Dit volg nadat die minister van basiese onderwys onlangs weer bevestig het vanjaar se Junie-matriekeksamen val weg.

Die algemene gevoel is kommer dat die leerders nie teen die einde van die jaar ondervinding van ure lange vraestelle gaan hê nie.

“Hierdie situasie bied nie vir die kinders voorbereiding vir die eindeksamen nie. Ons het nou ons toetse so gereël dat die vraestelle langer is sodat hulle oefening kan kry om deur sulke lang vraestelle te werk. Die departement het wel ook nou sy rekords se formules aangepas sodat die kinders se jaarpunte meer tel. Persoonlik is ek nie ’n voorstander nie,” verduidelik Dawie Diedericks, hoof van Montana Hoërskool.

Francois Beukes, Esselenpark Sekondêr se hoof, sê die munt het twee kante.

“Aan die een kant gee dit die leerder tyd om werk in te haal en dit op standaard te bring, maar aan die ander kant gaan die kinders nie weet wat dit is om ure lank in ’n eksamenlokaal te sit nie omdat daardie voorbereiding in die vorm van die Junie-eksamen nou weggehaal is. Ons matriekleerders het laas in 2019 in ’n eksamenlokaal gesit. Dit is ’n moeilike ding vir die kinders, want die toetse is ook nie voldoende in vergelyking met die hoeveelheid werk wat die kinders reeds gedoen het nie. ’n Voorbereidingseksamen in September moet oorweeg word.”

Andries du Toit, hoof van die Hoërskool Somerset, stem saam met die departement se besluite.

“Die kinders het baie werk verloor, en dit gee hulle die kans om hul werk in te haal. Maar terselfdertyd loop hulle die geleentheid mis om vir die lang vraestelle in die eindeksamen voor te berei. Ons doen ons bes en doen toetsreekse, maar die kinders moet daaraan gewoond raak om in ’n eksamen deur lang vraestelle te werk. Die werk wat hulle vir ’n toets moet leer, is nie dieselfde as die werk wat vir ’n lang eksamenvraestel geleer moet word nie,” meen Du Toit.

Riaan Laubscher, Worcester Gimnasium se adjunkhoof, sê dit gaan goed by hulle. “Hierdie besluit is gewis tot nadeel van die matrieks. Ons is ongelukkig deur hierdie besluite gebind, maar die kinders kry nie die geleentheid om vir die eindeksamen te oefen nie.”

Die Departement van Basiese Onderwys het reeds in September 2020 aangekondig dat die Junie-eksamen vanjaar afgestel sou word.

Elijah Mhlanga, die woordvoerder van die departement, sê die besluit is geneem omdat skole in 2020 maande lank toe was en leerders nie die sillabus voltooi het nie.

“Die graad 12’s van 2021 is die graad 11’s in 2020 wat erg geraak is omdat hulle nie hul leerplan voltooi het nie. Skole het in 2021 laat begin, wat beteken dat die leerplan reeds vertraag is. Om die leerders meer leertyd te bied, wil ons hulle eerder toelaat om aan te hou leer as om vir eksamens te staak. As hulle nie voortgaan om te leer nie, beteken dit wanneer die eindeksamen aanbreek, hulle dalk vrae oor werk sien wat hulle nie gedoen het nie. Dit is nie die regte ding om te doen nie. Leer self is voorbereiding vir die eindeksamen. Jy kan nie leerders toets op werk wat hulle nie gedoen het nie. Eksamens is nie die enigste manier om leerders te assesseer nie,” sê Mhlangu.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.