Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vrou se pyn ná vier se dood

“As ek alleen is en in die aand in my bed lê, dan sien ek hulle, dan hoor ek hulle en voel ek hulle hier by my. Ek wil dan praat, maar hulle hoor nie. Al wat my staande hou en my deur dit dra, is my geloof in die Here en my sopkombuis. Dit is al hoe ek vir ’n oomblik dan kan vergeet van die seer.”

Só vertel Everyhelda Smit, ’n inwoner en weldoener van Tulbagh, wat in een maand haar seun, haar seun se pa, haar broer en haar niggie aan die dood afgestaan het.

Everyhelda se seun Cassius Louw (34), ’n geliefde kelner van Tulbagh, is Saterdag 6 Junie omstreeks 19:30 in sy ouerhuis oorlede nadat sy biologiese pa dieselfde oggend aan ’n hartkwaal beswyk het.

Cassius se pa, Casper Apolis, het sowat twee maande vroeër ’n beroerte gehad wat hom aan die linkerkant van sy lyf verlam gelaat het.

“Ek en my man, Gerhard, het Cassius se pa ná sy beroerte ingeneem en hom versorg. Sy pa, wat so te sê deel van ons familie was, se are het vernou en sy hart kon dit nie meer hanteer nie. Die dokters het ons op 6 Junie ná 03:00 uit Tygerberg gebel en ons ingelig Casper se hart het gaan staan.”

Sy sê sy kon sien dit het haar seun se hart gebreek. Hy was die hele dag stil.

“Ek het die aand, omstreeks halfagt, by hom in die kamer gaan sit. Hy was gebroke en het aan my geklou. Ek kon voel hoe sy hele lyf styf trek en sy liggaam in skok gaan. Hy het diep gesug; sy asemhaling het swaarder geword en toe al hoe stiller en toe is dit alles net verby – my kind is in my arms dood.”

Presies 28 dae ná hierdie tragiese gebeure, ook op ’n Saterdagaand (4 Julie) min of meer dieselfde tyd, het sy haar na haar broer, Clyde von Willingh (37), se huis gehaas nadat sy vrou laat weet het hy is siek. Hy is toe op dieselfde tyd ook in sy huis oorlede – net nadat Everyhelda daar aangekom het.

“My hart is stukkend en gebreek. My broer was ’n liefdevolle mens en het ongelukkig ’n nare mediese geskiedenis gehad. Hy het sy arm op 13-jarige ouderdom gebreek en ons is met hom hospitaal toe. Hulle het agtergekom dat daar fout was met sy niere en hy moes uiteindelik in 2016 ’n nieroorplanting ondergaan. Hy het drie keer per week Worcester toe gegaan vir dialise en sy niere was klopdisselboom. Sy hart en longe het egter opgepak en vog op sy longe het sy dood veroorsaak,” vertel ’n hartseer Everyhelda aan Standard.

Sy vertel hoe die familie na hom opgekyk het en hoe geliefd hy in die gemeenskap was.

“Baie het hom geken en baie mense was gek oor hom. Hy kon as gevolg van sy mediese toestand nie altyd werk nie, maar hy het altyd voorsien. Hy was iemand wat enigiets kon regmaak – van gebreekte huisware tot gebreekte harte,” voeg sy by.

Clyde is verlede Sondag deur die familie gegroet en is die Maandag veras.

Dit was egter nie waar Everyhelda se hartseer gestop het nie.

“ ’n Paar dae daarna is my eie niggie van Stellenbosch ook oorlede. Sy word hierdie naweek wat kom, begrawe. Soms vra jy jouself af wanneer die hartseer gaan einde kry. Dan vra jy jou ook af wat die Here se plan is – dit is al waaraan ek kan klou. My man, my dogter en die gemeenskap dra my tans deur hierdie moeilike tyd.”

Sy verduidelik hoe haar dogter, Andrené Louw (17), na haar broer verlang en hoe moeilik sy dood ook vir haar is.

“Dit was vir ons almal moeilik, maar veral vir haar. Hulle het ’n baie noue band gehad. Huldeblyke en boodskappe oor my seun se afsterwe het ná die berig in Standard so ver as uit Sri Lanka gekom. Ek is baie trots op hom.”

Everyhelda bestuur al die afgelope 12 jaar ’n suksesvolle sopkombuis genaamd Jesus, Bread of Life Soup Kitchen, in Tulbagh. Sy voed honderde kinders en behoeftiges twee keer per week en is ook ’n vrywilliger by Kansa.

“Almal sê ek moet net aangaan, maar sommige dae is moeiliker en seerder as ander. Ek mis hulle almal vreeslik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.