Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wonderland bid nou vir hulp

Die Wonderland-kleuterskool, wat al vir die afgelope 30 jaar na kinders uit gemeenskappe soos Riverview, Roodewal en Avianpark omsien, staar ’n onsekere toekoms in die gesig.

Die skool se registrasie het die einde van verlede jaar verval en dit het veroorsaak dat hy sy subsidie by die onderwysdepartement verloor.

Die onderwysers en skoolhoof werk sedertdien sonder ’n inkomste en dis net deur die ouers en onderwysers se welwillendheid dat die skool nog kan werk.

“Ons moet weer aansoek doen vir ons subsidie, maar dis onmoontlik want ons gebou voldoen nie aan die nodige vereis­tes nie. Die vereistes sluit ’n brandsertifi­kaat, opgegradeerde bouplanne, ’n elek­triese bedradingsertifikaat en verbeterde veiligheidsmaatreëls in,” sê Chantal la Grange, voorsitter van Wonderland-kleuterskool.

Die vereistes maak deel uit van ’n nuwe wetgewing wat van toepassing is op elke kleuterskool in die land.

“Ons huur die gebou by Chipros, ’n organisasie sonder winsbejag, wat in beheer is van die JC Beukes-saal. Ons medehuurders is die tafeltennisklub wat in die aande kom oefen, die Klein Begin-dienssentrum en ’n naaldwerkgroep. Die gebou lyk presies nog soos dit 16 jaar gelede gelyk het toe ons hier ingetrek het,” sê La Grange.

Die deure aan die kant van die saal wat na binne toe oopmaak, is in ’n slegte toestand na hulle telkemale deur skelms oopgebreek is. Die deure voldoen nie aan die brandweer se standaarde nie. Foto: Rick Marais

Die kleuterskool se hekke is verlede Maandag gesluit nadat hulle ’n brief ontvang het wat aangedui het dat hulle ongeveer R11 000 se huurgeld skuld. Die kleuterskool kon van die middel van die jaar nie huurgeld betaal nie omdat die geld letterlik opgedroog het.

Die skool gee ook daagliks kos vir die kinders wat uit minderbevoorregte huise kom.

“Die maaltye wat ons hulle gee, is soms die enigste kos wat die kinders kry, want sommige van hulle bly by hul oupas en oumas wat net sosiale toelae ontvang,” verduidelik La Grange.

Die skool het nou self brandblussers aangeskaf en die ligte in die gebou vervang, maar met deure wat nie reg toemaak nie is daar gereeld inbrake.

Die skool het ook geen water aan die buitekant nie, wat ’n groot probleem in die geval van ’n brand is.

Ons het al by die eienaars van die gebou gepleit en aan hulle verduidelik dat as hulle die probleme regmaak, sal dit nie net ons nie, maar al die huurders baat. Omdat ons almal onder een dak is, moet die hele gebou ’n brandsertifikaat asook ’n elektriesebedradingsertifikaat ontvang. Sonder die subsidie wat die huur en die kinders se kos betaal, trek ons baie swaar.
Chantal la Grange, voorsitter van Wonderland-kleuterskool.

“Ons het onlangs ’n elektrisiën gekry om vir ons ’n kwotasie te gee vir ons elektriesebedradingsertifikaat en die bedrag was meer as R29 000. Dis net vir ons gebou, want die elektrisiën kon nie toegang tot Chipros se kantoor verkry nie.”

Volgens die Wonderland-bestuur is daar geen samewerking van Chipros se kant af nie. “Ons reël vergaderings, maar dan daag Chipros se mense nie op nie. Hulle bestuur die gebou, hulle moet hier wees om ook deel van die gesprekke te wees.”

Die skool se kontrak by Chipros vir die huur van die gebou verstryk einde van­jaar en die onderwysers is onseker oor wat volgende gaan gebeur. “Ons oorleef op gebed en ons glo, want die kleuter­skool is hier om die kinders te onderrig.”

Raadslid Margaret Sampson het bevestig dat die BVM ingestem het om geld aan die kleuterskool te verskaf sodat hulle die agterstallige huur kan betaal.

“Ons kan nie dat die kinders buite sit nie. Hulle kontrak verval Desember en hulle moet met mekaar gesels. Ons het gedoen wat ons kan. Ons het ingegryp omdat ons bekommerd was die kinders gaan daar onder ly,” sê Sampson.

La Grange het bevestig dat die BVM wil help, maar hulle sukkel tans nog om vir Chipros se bestuur te verduidelik dat daar geld beskikbaar is om die agterstallige huur te betaal.

“Die bestuur van Chipros sê ons lieg oor die geld van die BVM en hulle soek konkrete bewyse,” sê La Grange.

Daar is sprake dat die Foundation for Community Work (FCW) ook wil help om die gebreekte ruite, toilette en deure te herstel.

“Die FCW het ’n toelaag wat hulle gaan gebruik om ons te help. Die enigste probleem is hulle kan eers daardie werk Maart volgende jaar begin doen – dan is ons seker al by die perseel uitgesit,” sê La Grange.

Die Wonderland-bestuur bedank almal wat verlede week die kinders kom ondersteun het wat voor ’n geslote hek gestaan en wag het.

“Almal het ingespring om te help. Party het ysies gebring terwyl ander die kinders gehelp het. Ons wil almal bedank. Van hier af maak ons die ’n gebedsaak en ons hoop dat ons skool se deure nog volgende jaar sal oop wees en ons, ons subsidie sal ontvang,” sluit La Grange af.

Willem Swarts, voorsitter van Chipros, het in antwoord op ’n lang lys vrae van Standard gesê hulle gaan geen verdere kommentaar oor Wonderland gee nie.

“Ons volstaan by ons verklaring van verlede week. Wonderland wil die media gebruik om hulle onverskillige en onverantwoordelike versuim teenoor die kinders te regverdig en as julle hulle daarin wil sterk, moet dan asseblief nie ons hulp verwag nie. Hulle ken al die antwoorde op al daardie vrae wat die koerant stel en soek dus net goedkoop publisiteit,” het Swarts gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.