Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wonderwerkbaba vier 1ste verjaardag

’n Baba wat op 24 weke gebore word en skaars 380 g weeg, het ’n baie skraal kans om te oorleef. ’n Jong vegtertjie van Worcester het dit egter anders bewys.

Baba Seth Jean Dreyer is op 15 Desember verlede jaar in die Netcare Blaauwberg-hospitaal in Kaapstad gebore. Sy lyfie was só klein dat sy mamma gedink het hy lyk soos ’n klein voëltjie.

Shadei Dreyer, Seth Jean se ma, het ongeveer ’n week voor die geboorte hoë bloeddruk ontwikkel en sê sy het “opgeblaas gevoel”.

“Dr. Kobus Graaff, my ginekoloog, het besluit om my van die Mediclinic Worcester af na die Netcare Blaauwberg te verskuif, omdat Blaauwberg beter ingerig was vir die geboorte van so ’n klein baba,” vertel Shadei.

Die baba se naam, Seth Jean, het ’n spesiale betekenis vir Shadei. Seth beteken “gesalfde” en Jean (wat ook sy pa se naam is) beteken “geskenk van God”.

“Ek het al hoe swakker geword. My baba het opgehou groei en op 14 Desember moes ek besluit of ek dit gaan waag om die lewe te skenk met al die komplikasies daarmee saam en of ek ’n aborsie sal ondergaan. Ek het pre-eklampsie gehad en dit was die oorsaak waarom die baba so vroeg moes kom,” sê sy.

Gewoonlik is ’n baba eers regtig lewensvatbaar buite die baarmoeder ná 25 weke van die swangerskap, sê Shadei.

“Hy was ook ’n seuntjie en volgens die dokters veg seuntjies nie altyd so hard soos meisietjies nie. Alles was dus teen ons.”

Die eerste paar weke kon sy net na haar baba kyk omdat hy te klein was om vas te hou.

“Hy was so klein dat sy vel nog deurskynend was.”

Kort daarna het Shadei opgemerk dat haar baba vreemd huil en die dokters het ontdek Seth het ’n liesbreuk.

“Hy het nog net 500 g geweeg en hulle sou eers op 2 kg aan hom kon opereer. Ons moes wag en al wat hulle vir hom kon doen was om hom antibiotika te gee. Die operasie is op 15 Maart gedoen om sy liesbreuk te herstel.”

Dreyer moes weer terug werk toe en Seth moes in Blaauwberg agterbly.

“Ek het half gevoel sonder my baba. Ek het gereeld gaan kuier, maar dit het later moeilik begin raak. Kort daarna is hy oorgeplaas na Mediclinic Worcester voordat hy op 29 Maart ontslaan is,” sê die trotse mamma.

Baba Seth Jean is die gesin se wonderwerkbaba, want voor hom het Shadei twee miskrame gehad.

“Ek het nou vir baba Seth en sy boetie Sha-Aib wat twaalf is. Ek het agtergekom dat gebed ons deur die moeilike tyd gedra het,” sluit sy af. ’n Gelukkige en gesonde Seth het Saterdag 15 Desember sy eerste verjaarsdag gevier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.