Soos die kraai vlieg, lê Wupperthal 200 km van Worcester, maar vyf bergpasse en tartende grondpaaie vreet úre uit jou dag. Plus bande.
Toe Kobus Smit, die eienaar van Boland Bouers, vroeg in 2019 die kontrak kry om Wupperthal se brandskade te herstel, het hy reeds ondervinding van erfeniswerk in Russelstraat opgedoen. “Hierdie keer moes ons sorgvuldig beplan sodat elke vragmotorwiel wat Wupperthal toe draai, ten beste benut word. Daarvoor moes Alicia le Roux en Alex Vermeulen van ons kantoor sorgvuldig beplan.”
Wupperthal, die 1830’s-sendingdorpie 67 km buite Clanwilliam, is op 30 Desember 2018 feitlik geruïneer toe kinders in ’n sterk oostewind heuning met ’n brandende tak wou uithaal.

Kobus Smit, eienaar van Boland Bouers van Worcester, en Ian Rabie, die projekbestuurder, sê elkeen van die historiese geboue het sy eie storie vertel, tog was Leipoldthuis vir almal van besondere betekenis.
Altesaam 53 woonhuise is vernietig, plus die dorpskern – geboue wat ’n belangrike rol in hul sosiale aktiwiteite speel en as “die werf” bekend staan. Kenners het Wupperthal se brandramp bestempel as dieselfde soort volksboukundige verlies as die 1969 Tulbagh-aardbewing.
Die Rupert-stigting het dadelik aangedui dat hulle “die werf” se heropbou sal finansier, met sekere bepalings: Soveel Wupperthallers moontlik moet tydens restourasie opgelei en alle geboue moet volgens Erfenisstandaarde gerestoureer word. Erfenisriglyne impliseer ’n tydsamer en veel duurder proses.
“Omdat ons slegs ses maande ná die brand begin werk het, moes ons gereeld vinnige besluite op die terrein neem. Gereelde skakeling met argitekte en erfeniskenners was noodsaaklik, al skop elektrisiteit en internetseine dikwels af en al raak dit op somersdae tot 49 grade Celsius.”
Kobus en Ian Rabie (projekbestuurder op die terrein) was verras oor Wupperthallers se “ou” kennis van klip- en houtwerk. “Vandat hulle die regte ‘tools’ het, werk hulle nou eers lekker!”
Een Wupperthalwerker het biddend op sy knieë neergesak uit dankbaarheid vir die eerste salaris van sy lewe. “Hierdie manne voel nou bemagtig en kan voortaan ook bou- en restourasiewerk doen.
Gereelde skakeling met argitekte en erfeniskenners was noodsaaklik, al skop elektrisiteit en internetseine dikwels af en al raak dit op somersdae tot 49 grade Celsius.
“Ons laat altyd ’n omgewing beter agter as wat ons dit gekry het: Ons verbeter ons blyplekke, betaal vir roosterkoeke en skoonmaakdienste en help as ’n inwoner se trekker breek. Hier het ons ook ’n toegewyde werker bemagtig om sy eie huis te bou en moontlike leiers vir werkskeppingsprojekte identifiseer. Ons het nie net gaan bou nie – die hele doel is dat Wupperthal en sy mense veel beter toegerus sal wees met ekstra werkskeppingsgeleenthede as voorheen.”
Die Rupert-stigting het nog geld bewillig sodat 10 ekstra Wupperthalgeboue opgegradeer kon word. Dit sluit die skoenfabriek en oornaggeriewe vir toeriste in.
Omdat 1830-geboue geen sement bevat nie, moes die konstruksiespan net kalk gebruik. Enkele sakkies sement wat spaarsamig ingespan is, word volledig aangeteken.
“Wat ’n leerkurwe was hierdie kalk uit Robertson vir ons. As ons geweet het dit bly wintertye weke lank sag, sou ons anders beplan het! Uiteindelik was kalk lekker ‘groen’, maar kleistene vereis kalkpleister; kalk vereis intensiewe instandhouding. Uiteindelik het Breathcoate ons kalkvriendelike binne- en buiteafwerking gebied.”

Leipoldthuis in Wupperthal was na raming 184 jaar oud toe ’n brand dié sendingdorpie verwoes het. Die eerste foto wys die afgebrande gebou en die tweede foto is geneem nadat dit ingevolge erfenisriglyne gerestoureer is. Foto’s: Graham Jacobs
Inperkings en Covid-19-verwante uitdagings ten spyt, is Wupperthal se heropboufase feitlik voltooi.
“Die infrastruktuur lyk nou beter as voorheen – watervoorsiening, ’n volledige brandstelsel, elektrisiteitsnetwerk en riolering.
“Uiteindelik was hierdie nie net nog ’n projek nie; dis waarlik ’n projek vir die geskiedenisboeke!”