Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Worcester se ‘ma’ oorlede

As ’n mens aan Kathleen Kariem (89) dink, dink jy aan die ystervrou wat nooit geskroom het om op te staan teen ongeregtigheid nie.

Jy dink dan ook aan haar rol as vrou, ma, digter en versorger.

Ma Kariem, soos die meeste haar geken het, het haar stempel behoorlik afgedruk, maar het haar aardse lewe verlede Woensdag (2 September) vaarwel geroep.

Kathleen het die afgelope 12 jaar in die Huis Andries Hamman-tehuis vir bejaardes in Worcester tuisgegaan waar sy ander inwoners en personeel met haar gees en menswees bemoedig het.

Sy is in Grahamstad in die Oos-Kaap gebore en het later haar man, Gabriël Kariem, daar ontmoet. Hulle het vyf kinders in die wêreld gebring en later twee seuns ook aangeneem. Haar man is al 22 jaar gelede oorlede.

Sy was mal oor skryf en het oor die jare heen heelwat gedigte en kortverhale geskryf – alles sterk geskoei op die verlede, die struikelblokke van Apartheid en vrouwees in ’n wêreld waar vroue steeds onderdruk word.

Haar kinders, tesame met Chipros, ’n organisasie sonder winsbejag, asook die junior stadsraad van Worcester, het verlede jaar besluit om haar handgeskrewe gedigte oor te tik en in boekformaat te laat druk.

Sy word beskou as ’n ystervrou en baie van haar gedigte het ander geïnspireer om ’n verskil te maak.

Studente het in 1980 ’n beweging vir vryheid in Worcester begin en sy was een van die kampvegters vir vryheid en liberale denke in ’n tyd toe dit onwettig was. Sy het nie opgegee nie en haar dade, woorde en gedigte het tot die soms vergete geskiedenis van vegters in kleiner dorpe en plekke bygedra.

Kariem se bundel beskik oor die geskiedenis van haar lewe en die gedigte wat sy sedert 1950 tot in die vroeë 2000’s geskryf het.

Sy het in 1985 die geleentheid gekry om na die VSA te reis en het ses maande daar gewerk.

Sy het na Worcester teruggekeer en haar stempel deur die Boland Kerkraad begin afdruk.

Sy het baie teenstand gekry, het met rassisme en onregverdigheid te doen gekry, haar seun is in hegtenis geneem en sy is destyds meegedeel dat sy hom nooit weer sou sien nie.

Met haar moed en durf kon sy hom egter help en het belangrike standpunte in die gemeenskap ingeneem.

“My ma was ’n ware mense-mens. Sy het vir ander geleef. Sy was soos ’n ma vir baie mense en haar liefde vir kinders was iets besonders,” vertel haar dogter, Adeline Jantjies, aan Standard.

Jantjies verduidelik hoe haar ma hulle met liefde grootgemaak het en hoe sy hulle as kinders altyd geïnspireer het om die wêreld ’n beter plek te maak.

“My mammie het altyd gesê: ‘Vir elke kind op die straathoek is daar ’n rede. Dit is jou en my plig om uit te vind wat daardie rede is voordat ons oordeel en dan te kyk hoe ’n mens kan help.’ Dit het nog altyd ’n indruk op my gemaak.”

Jantjies sê die grendeltyd was vir hulle as familie baie moeilik.

“Ons kon ons mammie nie baie sien nie en het haar eintlik baie lanklaas gesien. Die tehuis het al voor die instelling van die amptelike grendeltyd sy deure vir die publiek gesluit – om veiligheidsredes. Sy is oorlede weens ouderdom. Sy was nooit siek nie; sy was baie gesond. Ons vermoed die eensaamheid van die afgelope paar maande het ook tot haar dood bygedra. Ons gaan haar baie mis,” voeg Jantjies by.

Charles Beukes van Chipros het Woensdag (9 September) by haar gedenkdiens ’n spesiale huldeblyk gelewer en oor die merkwaardige lewe wat sy gelei het, gepraat.

“Sy het nie net haar lewe aan ander gewy nie, maar was ook jare lank by die Worcester-hospitaal betrokke. Sy was haar lewe lank toegewy aan diens aan haar gemeenskap. Sy en haar man het hul kinders volgens die Woord van die Here grootgemaak en die liefde vir God en liefde vir jou medemens elke dag uitgeleef. Haar betrokkenheid by maatskaplike verandering sal voortleef en nooit vergete raak nie,” het Beukes gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.