Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wyk knap die begraafplaas op

Verwaarloosde begraafplase is ’n nasionale probleem en sowat twee maande gelede het Standard berig oor die haglike toestande waarin die Worcester-begraafplaas hom bevind, min wetend dat ’n span hard aan die werk is om dié prentjie te verander.

Oop gate, gebreekte mure, vullis en ander gemors het orals gelê. ’n Afgesperde gebied wat as ’n veiligheidsrisiko beskou kon word en straatbewoners wat dele beset – dít is hoe dit gelyk het. Vandag lyk die prentjie heelwat anders.

“Min mense raak egter ooit betrokke en steek hand in eie boesem om die situasie te probeer verander. Dit was egter presies wat wyk 7 se wykskomitee die afgelope twee jaar gedoen het – en vandag kan die hele gemeenskap die vrugte van hierdie span se visie pluk,” vertel wyk 7 se raadslid, dr. Julian Kritzinger, aan Standard.

Janke-Mari Steyn, ’n inwoner van Worcester en iemand wie se ma se laaste nagedagtenis in die begraafplaas is, het in die verlede aan Standard gesê die begraafplaas is “ ’n skreiende skande”, maar nou voel sy anders.

“Ek was verlede week, net voor die inperking, na my ma se graf en ek was verras. Ek voel rustiger oor die feit dat my ma se graf daar is. Welgedaan,” het sy gesê.

Sedert 2017 het Kritzinger saam met sy wykskomitee hul jaarlikse toeken­ning van geld vir wyksprojekte wat in die munisipale begroting aan elke wyk toegeken word begin aanwend om die begraafplaas in Kerkhofstraat te begin omhein.

“Met die toekenning van die 2017-’18-boekjaar se geld het ons dit aangewend om die heining aan te koop en dit toe daarna in veilige bewaring gehou.

“Met die toekenning van die 2018-’19-boekjaar se geld is nog ’n stuk heining aangekoop en is ook vir die arbeid vir die oprigting van die heining betaal,” voeg hy by.

Aangesien die begraafplaas in Kerkhofstraat so ’n reusegebied beslaan, is dit noodwendig dat ’n taak soos hierdie in fases aangepak moet word soos wat geld beskikbaar is.

“Die eerste fase van die begraafplaas wat pas omhein is, is die straatfront – van die Congregational kerk-begraafplaas tot by die ingang van die krematorium.

“Hierdie gebied dek grotendeels die NG kerk-begraafplase, met ’n groot gedeelte van die BVM-begraafplaas daar agter,” vertel Kritzinger verder.

Fase twee sal aangepak word met die volgende geld wat later vanjaar vir wyksprojekte beskikbaar gestel gaan word.

Dit behoort genoeg te wees om die ingang van die krematorium en die Anglikaanse kerk se begraafplaas se straatfront te omhein.

Daarna moet die Prefek Apostoliese kerk en die Duitse Lutherse gemeente se begraafplase nog omhein word.

Die Evangeliese gemeente en die Verenigende Gereformeerde kerk se begraafplaas het reeds ’n hoë muur.

“ ’n Onlangse uitdaging was toe ’n anonieme – waarskynlike dronkbestuurder – die historiese pilaartjie voor die hoofingang van die begraafplaas omgery het.

“Op ’n onverklaarbare wyse het ’n motor toe sowaar ook net daarna die ander pilaartjie ook omgery.”

Met groot moeite en groot sorgvuldigheid het Breedevallei-munisipaliteit se superintendent van geboue, Rashied Douglas, die pilare weer histories korrek, op hulle patroon, stukkie vir stukkie herbou. Douglas en sy span se moeite en harde werk maak dat ’n mooi gedeelte van Worcester se geskiedenis nou nie verlore gaan nie, maar vir die nageslag behoue sal bly.

“Die gedeeltes wat nou omhein is, bring sigbare verligting vir etlike probleme wat in die begraafplaas ondervind is.

“Ons hoop om dit ook nog op te los,” het Kritzinger gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.