Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Bonuspunte beklink liga vir Villa

Ashton United (Unies) het Saterdag 31 Augustus op die Kogmanskloof-sportterrein gasheer gespeel vir die huidige Boland-kampioen, Villagers Worcester (Villa).

Villa het verloor, maar die wedstryd was om van kennis te neem omdat die Worcesteriete reeds vir die tweede agtereen­volgende jaar die Breëlangeberg-streektitel verwerf het.

Die wedstryd het afgeskop met Villagers wat vir die eerste klompie minute goed druk toegepas het. Woeste verdediging deur United het egter verhoed dat die kampioene punte aanteken. David Wagenaar, senter, het die tuisspan se rekening met ’n netjiese strafskop geopen ná ’n oortreding in die skrum deur Villa. Net na dit het Ashton die voorsprong na 8-0 gerek toe Heinrich Snyman, senter, verskeie verdedigers gefnuik het en in die hoekie oorgeduik het. Wagenaar se doelskop was onsuksesvol.

Villagers het hard teruggeslaan met ’n vyfpunter deur Courtney Cupido, senter, ná ’n mooi breekslag deur Elton Valla. Die losskakel, Austin Hendricks, het die drie verdoel om die telling na 8-7 te laat aanrol.

Kort hierna het Ashton geantwoord met ’n drie ná ’n mooi agterlynbeweging. Wagenaar het dit weer verdoel. Telling: 15-7. Net voor rustyd is Villagers vir onkantspel gestraf, wat Wagenaar in punte omskep het om die rustydtelling 18-7 te maak.

Ashton het die tweede helfte verwoed op die aanval begin en is met ’n pragtige drie beloon. Wagenaar se skop het die telling 25-7 gemaak.

Villa se agsteman, Egan Uren, was volgende om langs die pale te gaan druk. Die plaasvervanger op losskakel, Yazeed Johnson, se doelskop was onsuksesvol 25-12.

Met die daaropvolgende afskop het Ashton se regtervleuel, Granville Matthys, die bal bemeester en langs die kantlyn af genael om te druk. Weer het Wagenaar verdoel. 32-12.

Villa het nou op al sy silinders begin vuur en sy linkervleuel, Gurshwin Wehr, gestuur om onder die pale te gaan druk ná goeie tussenspel deur sy voor- en agterspelers. Johnson se doelskop was suksesvol, wat die telling op 32-19 te staan gebring het.

Villagers het onmiddellik daarna weer ’n drie aangeteken toe sy plaasvervanger op senter, Braiyen Stynder, oor is en Johnson dit kon verdoel.

Met die eindtelling op 32-26, is twee bonuspunte aan Villa toegeken.

Villagers, sonder heelwat van sy staatmakers, het die Breëlangeberg-titel met dié twee bonuspunte verseker aangesien dit net wiskundig nog vir Robertson moontlik was om die titel met ’n oorwinning van bykans 100 punte oor Touwpark te wen, mits Villagers geen ligapunte uit die wedstryd sou kry nie.

Vir Villagers was Morne Boshoff en Andre du Toit voorlangs goud werd en Yazeed Johnson het agterlangs opnuut sy ervaring beklemtoon.

Villa se derde span het Ashton met 17-0 kafgedraf terwyl Villa se tweede span Ashton met 19-7 geklop het.

Al drie spanne het dus as streekkampioene uit die liga getree.

*Villagers reis Saterdag na Robertson vir ’n vriendskaplike wedstryd teen Rangers by die Van Zylstraat-sportgronde.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.