Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Eindfluitjie blaas vir bekende in sportkringe

Nog ’n seder in die rype annale van Worcester se sportgeskiedenis is afgekap toe nog een van Worcester se sportsterre van weleer, die 70-jarige Henry Grove, of Hennetjie, soos hy alom bekend was, Saterdag 22 Augustus in die vroeë oggendure aan huis in Noblepark oorlede is.

Hennetjie was die naasoudste van agt kinders van wyle Daniel en Claire Grove, van wie nog twee broers en twee susters leef.

Hy het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Esselenpark voltooi waar hy aan verskeie sportsoorte deelgeneem en die Boland-skole se atletiekspan as verspringer gehaal het. Hy was ook lid van die skool se krieketspan wat in die senior liga meegeding het en het twee jaar vir die skool se A-span rugby gespeel. Hy was in sy laaste jaar waarnemende kaptein.

Hennetjie het sy klubrugby-loopbaan by Worcester Villagers in 1970 begin en ná ’n reeks skitterende wedstryde is hy in die destydse Worcester-Uniespan opgeneem. Hy het ook ’n hele paar wedstryde vir Boland se B-span gespeel.

Sy deelname vir Villagers het egter ’n komiese kinkel meegebring. Nie net het sy ander vier broers almal vir sy aartsvyand, Alberts, gespeel nie, maar hy is in Mei 1978 met sy skoolliefde Cynthia (’n nooi Fransman) getroud, wat ook uit ’n familie met stoere Alberts-bande gekom het.

Omdat hy ’n skitterende losvoorspeler was en sy broer Johnny (wat later provinsiale rugby vir Boland en SWD gespeel het) ook ’n losvoorspeler was, was die gort behoorlik gaar wanneer dié twee spanne kragte gemeet het en hy en sy (oorlede) broer direkte opponente was.

Hennetjie was ook ’n knap middelorde-kolwer en paaltjiewagter en het vir Primroses krieket gespeel.

Hy het ná skool by Eskom begin werk, maar omdat sy werksure destyds ingedruis het teen sy betrokkenheid by sy sportaktiwiteite, het hy bedank en langer as 20 jaar in die vervoer-afdeling van Rainbow Chickens gewerk totdat hy in 2002 noodgedwonge ’n skeidingspakket moes aanvaar toe dié maatskappy se vervoerkomponent uitgekontrakteer is.

Hy was later ten nouste betrokke by sy twee seuns se rugbyloopbane en het ook baie tyd spandeer om opkomende rugbyspelers die fynere kunsies van veral losvoorspelerspel te leer.

Wyle Henry het die afgelope sewe jaar egter met sy gesondheid gesukkel en nadat nierprobleme by hom gediagnoseer is, moes hy gereeld dialise ondergaan. Hy was die afgelope langer as ’n maand in die Panorama-hospitaal voordat hy Vrydag 14 Augustus huis toe gestuur is.

Hennetjie word Saterdag (29 Augustus) om 11:00 uit die VGK Worcester (Adder­leystraat) ter ruste gelê. Die huisdiens word om 09:30 by Dawoodstraat 10, Noblepark, gehou. Buiten sy gade, twee susters, twee broers en sy twee seuns laat hy ook drie kleinkinders agter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.