Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Esselenpark wen halfeindstryd

Hoërskool Breërivier (HB) en Esselenpark Sekendêre Skool (EP) het Woensdag 18 September op Bolandpark in die halfeindstryd van die Besigheid teen Misdaad-kompetisie kragte gemeet.

EP het koning gekraai deur HB 27-21 te klop.

HB het die wedstryd afgeskop waarna EP, toe hy die bal kry, die kantlyn gaan opsoek het. EP het egter in die lynstaan oortree. HB het die strafskop gekry, maar die skop pale toe was onsuksesvol. Gherwin Joubert, losskakel, het EP egter op die aanval geplaas, waarna hy die lynstaan gewen en sy agterlyn weggestuur het.

Sy skrumskakel, Markwin Swartz, het gaan druk en Joubert het seker gemaak van die strafskop wat die telling 7-0 in EP se guns gemaak het. Ná die inskop het HB die bal bemeester en pragtig met sy voorspelers gespeel. EP het egter fouteer, maar HB het weer misgeskop.

EP het egter die bal gekry en verwoed aangeval. HB het hom tot foute gedwing. HB het ’n vinnige tikskoppie geneem en sy losskakel het onder die pale gaan druk. Die doelskop was oor en die telling 7-7 elk.

EP het nie gaan lê nie. Toe hy weer die bal kry, het hy sy agterlyn weggestuur en die vleuel Mathwin Jacobs het met brute krag oor die doellyn geseil. Die doelskop was egter mis en die telling 12-7 vir EP.

EP het dit vinnig opgevolg met nog ’n drie deur sy flank Tyrick Loff. Joubert se suksesvolle skop voor rustyd het die telling tot 17-7 vir EP verhoog.

Met die begin van die tweede helfte het HB weer aangeval toe hy die bal kry. Sy senter Auter Marais het die bal gekry en pragtig veld toe gespeel, maar ondersteuning het sy aanval gekortwiek. EP het die bal gekry en verligting gebring, die lynstaan gewen en die senter Jackman Jacobs wat die bal gekry het, het gaan druk. Die doelskop was egter weer mis (telling 24-7 vir EP).

EP het die pas in dié belangrike uitspeelwedstryd behoorlik aangegee. HB het ’n terugvegpoging van stapel gestuur en ’n oorstootdrie, gevolg deur ’n suksesvolle doelskop, aangeteken (telling 24-14). Die wedstryd het ’n klimaks bereik waar al twee spanne alles op die spel geplaas het om ’n oorwinning te verseker.

Korwin Longman van HB het daarna deur ’n gaping gesny vir ’n drie en ook ’n suksesvolle doelskop oorgestuur. EP moes hard baklei om sy voorsprong te behou en het ’n strafskop gekry toe HB oortree. Joubert het seker gemaak van die skop wat EP die wedstryd 27-21 laat wen het.

Die eindstryd word Saterdag 5 Oktober gespeel. Worcester Sekondêre Skool is uitgeskakel nadat EP ’n oorwinning met ’n bonuspunt behaal het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.