Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Fit2Run skitter

Fit2Run se middelafstandatlete was Saterdag (14 Maart) by die Wes-Kaap-kampioenskap in die Paarl soos gewoonlik op hul allerbeste. Hulle het nege medaljes ingeoes.

Die beste vertoning is gelewer deur die 15-jarige Chenique Sass, wat in die D18-groep meeding. Chenique het twee goue medaljes verower deur eers die 3 000 m in ’n persoonlike beste tyd van 10:02 te wen, en later ook die 2 000 m-hindernis in ’n persoonlike beste tyd van 07:02 kafgedraf. Chenique het in 2018 ’n bronsmedalje by die SA skolebyeenkoms gewen asook Boland se enigste medalje by die SA landloopkampioenskap in Germiston verlede jaar.

Sy het Saterdag haar spanmaat Virgell-Lee Africa, wat verlede jaar ’n silwermedalje by die SA kampioenskap gewen het, geklop.

Meagan Swanepoel het in die 3 000 m vir meisies o.20 hakskene gewys vir haar spanmaat Kate-Lynne Joseph, wat met die silwermedalje tevrede moes wees. Meagan, wat altyd ’n staatmaker is, was vroeër die dag tweede in die 5 000 m. Meagan is die SA rekordhouer vir meisies o.15 in die 1 500 m-hindernis, wat sy in 2016 met ’n tyd van 05:04 opgestel het.

In die meisies-o.16-afdeling het Wilarie van Esland goed gevaar deur derde in die 1 500 m-hindernis te eindig.

In die afdeling vir seuns o.16 was Leetin Syfers op sy beste. Hy het sy spanmaat Zandre Hatting geklop – Leetin was tweede en Zandre derde in die 1 500 m-hindernis.

Miche Kammies het die vorige week by die Wes-Kaap-kampioenskap vir laerskole tweede in die 1 200 m vir meisies o.10 geëindig. Sy gaan ook later vanjaar die meisies by die SA kampioenskap in Pietermaritzburg verteenwoordig.

Nog ’n atleet van Fit2Run, Abigail Botes, het Vrydag 13 Maart by die WP se junior byeenkoms ’n tweede plek in die 3 000 m-hindernis vir meisies o.20 behaal.

Die afrigter, Norman Ontong, is baie tevrede met sy span se vertoning en die medaljes wat die Fit2Run-groep verower het.

Hy sê dit is duidelik dat die program wat die groep volg, vrugte afwerp en dat hulle in die hinderniswedlope onstuitbaar is. Die atlete het hiermee ook hul plek in die Wes-Kaap-span verseker wat vir Atletiek Suid-Afrika se kampioenskap gekwalifiseer het.

Weens die maatreëls om die koronavirus se verspreiding te probeer stuit, sal die datum van die byeenkoms wat in die Paarl sou plaasvind, later bekend gemaak word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.