Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Franco se visier op Spele

Franco Smit se tasse is gepak en sy swempet reg vir sy vertrek vandeesweek na Londen.

Hierdie 20-jarige Worcesteriet gaan na die Wêreldswemkampioenskap om sy weg oop te swem vir deelname aan volgende jaar se Paralimpiese Spele in Tokio – ’n langgekoesterde droom van hom.

Franco is in Bloemfontein gebore en het vir jare saam met sy gesin in Kimberley gewoon totdat sy ouers besef het iets is nie pluis met die wyse waarop hy sy huiswerk doen nie.

Ná ’n besoek aan ’n dokter het hulle uitgevind dat Franco dieselfde oorerflike siekte het as baie van sy ma se broers en nabye familielede: distrofie van die stafies en kegeltjies in die oog, of Retinitis Pigmentosa. Dit het tot gevolg gehad dat hy slegs 6% sig in sy een oog het en figure en buitelyne net-net met sy ander oog kan identifiseer.

Ná sy diagnose het die gesin Worcester toe verhuis waar Franco Pionierskool toe is en ook drie jaar gelede sy skoolloopbaan voltooi het.

Franco was om en by sewe jaar oud toe hy begin swem het en kon sedertdien nie uit die water bly nie. “Ek was verbaas oor hoe goed ek daarin was. Toe ek later in my lewe besluit om aktief aan sport deel te neem, was daar geen ander keuse as om te swem nie – ek is mal daaroor,” vertel hy.

Hy het die afgelope paar jaar al verskeie geleenthede gehad om oorsee te gaan deelneem en kon Meksiko en Duitsland al só verken.

Franco, wat in vryslag, rugslag en vlinderslag deelneem, sê dat hy nie heeltemal gemaklik is met borsslag nie, maar in die ander drie slae uitblink en dit ook so verkies.

“Ek is geseënd met ’n natuurlike aanvoeling en talent daarvoor en daaroor is ek ongelooflik dankbaar. Party mense dink ek is vreeslik ernstig of lyk soms ongelukkig, maar dit is nie so nie.

“Binne-in my voel ek net blydskap en as ek in my kamer is, spring ek letterlik rond van opgewondenheid,” sê hy trots.

Sy ouers is ook baie trots op hom.

“Soms kry ek skaam oor hoe baie ons sy prestasies loof en prys, maar dan onthou ek dat daar niks fout is daarmee nie – hy verdien dit en werk ongelooflik hard vir wat hy wil hê,” sê sy ma, Zenda, ’n verpleegsuster by Mediclinic Worcester.

“Hierdie Wêreldspele is die hekkie waaroor hy moet spring om volgende jaar aan die Paralimpiese Spele te kan deelneem, ’n droom wat hy al jare binne hom koester en bitter hard voor gewerk het.”

Sy ouers vertel verder dat dit ’n duur storie is om elke keer oorsee te gaan deelneem en dat hulle elke keer self daarvoor moet opdok, maar dat hulle deur die jare baie barmhartiges teëgekom het wat hulle ondersteun. “Ons is dankbaar dat al sy vlugte en onkostes deur borge betaal word en dat ons basies nie ’n sent hoef uit te haal nie,” sê ’n dankbare Zenda.

Franco, ’n Suid-Afrikaanse kampioen met bykans 40 goue en silwermedaljes agter die blad, het sy persoonlike beste tyd vanjaar in Glasgow geswem en is nogal op sy senuwees oor sy reis na Londen.

“Dit is die eerste keer dat ek alleen oorsee gaan reis en op my eie oor die weg moet kom. Dit is net so skrikwekkend as wat dit opwindend is, maar ek is net dankbaar vir die geleentheid,” sê hy.

Dié Worcesteriet behoort teen middel September te weet of hy na die Paralimpiese Spele sal kan gaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.