Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Hammies verras met streepsuiker vir Villas

Young Hamiltons het Saterdag vriend en vyand verras deur met korrekte rugby Villagers Montagu van sy voete af te speel.

Dit was die besoekers wat van meet af aan die pap lekker dik aangemaak het en ’n verwoede aanslag van stapel laat loop het. Villas, soos wat die besoekers ook bekend staan, het taamlik vrae aan Hammies se verdediging gevra, maar die tuisspan het telkemale die druk skitterend verwerk.

Montagu open ook dan die telbord ná onkantspel met ’n netjiese strafskop deur sy heelagter Handré Ontong (3-0). Hammies slaan onmiddellik terug ná ’n hoogvat op buitesenter Gershwin Alberts, wat Ambrose Steyn (losskakel) in punte omskep (3-3). Amper onmiddellik ná die afskop val Hammies verwoed aan en vang die einste Steyn die verdediging met ’n fopaangee aan die slaap en gaan hy onder die pale oor vir ’n voorsprong van 10-3 nadat hyself die drie verdoel het.

Hammies oortree en Villas vernou die gaping met ’n strafdoel (10-6). Hammies teken nog twee Steyn-strafdoele aan terwyl Villas eers die telling gelykop maak met 13-13 elk en weer oorgaan om met die telling op 20-16 water te drink nadat die buitesenter Tyron Fortuin sy tweede verdoelde drie aanteken om sy span teen rustyd die voorsprong te gee.

Ná rustyd speel Hammies met nuwe vuur en neem weer die voorsprong toe Philbrey Joseph (flank) ná volgehoue druk oorgaan en die tuisspan weer met 23-20 voorloop nadat Steyn verdoel. Hammies se senter, Raldon Rooi, sny deur ’n gaping, maar word op pad doellyn toe onwettig neergevel, wat aan Hammies ’n strafskop besorg.

Die bal word uitgeskop en van die daaropvolgende lynstaan tot oor die doellyn gedryf waar Jason Wehr (flank en kaptein) oorgaan vir ’n drie. Steyn verdoel en Hammies se voorsprong rek tot 30-20.

Net ná die afskop gee Hammies die bal lekker lug, wat Steyn in staat stel om sy tweede drie te druk en self te verdoel om Hammies met 37-23 te laat voorloop nadat die besoekers ook ’n strafskop oorgeklits het.

’n Verdere Steyn-strafskop neem Hammies buite trefafstand (40-23) voordat Francois Mampa die wedstryd verseël met ’n skitterende drie, maar die man van die wedstryd, Steyn, kon dit nie verdoel nie.

Met die skare wat skree: “Ons wil ’n 50 hê,” teken Montagu Villagers ’n troosdrie deur slot Frans Conradie aan om die eindtelling op 45-30 ná ’n suksesvolle doelskop te bring.

Hammies C wen met 21-0, terwyl die B-spanne op onverklaarbare wyse met 0-0 gelykop speel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.