Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Persies stoomroller DDU

Worcester Perseverance het De Doorns United Saterdag (1 September) in sy eie agterplaas behoorlik gestoomroller toe hy die wedstryd 17-30 gewen het.

Die streekuitdaagkompetisie neem nou ’n baie interessante wending omdat vier spanne nou daarop aanspraak kan maak om as streekwenner gekroon te word. Elke wedstryd vorentoe is baie bepalend.

Die manne het mekaar Saterdag behoorlik die stryd aangesê en van die begin af het United getoon dat hy nie maklik voor sy tuisskare geklop gaan word nie. Maar sy hoop is later deur sy vele foute verydel.

United het sy eerste fout sommer al in die 10de minuut gemaak en ’n strafskop afgestaan. Alley Johnson (skrumskakel) het seker gemaak met die skop; 0-3 vir Persies.

United het pragtig herstel en mooi met sy voor- en agterspelers gewerk en is in die hoekie oor. Die doelskop was mis; 5-3 vir United.

Daarna het Persies druk op United met die bal in die hand geplaas en foute afgedwing wat tot nog ’n strafskop gelei het wat Johnson ook deur die pale gejaag het; 5-10 vir Persies.

Persies is ook betrap dat hy fouteer en United het verligting met ’n lynskop gebring. Persies het die lynstaan met uitstekende springwerk deur sy slot Johnovan Levendal gewen, wat die bal aan sy agterlyn besorg het waar Julian Lodewyk (senter) die bal gekry het. Hy het deur ’n gaping gesny en aangegee na die heelagter, Chandrau Jeftha, wat in die agterlyn ingespring en 50 m vir sy drie gehardloop het. Johnson het seker gemaak van die skop, 3-15 vir Persies.

Persies het daarna die meeste voordeel met sy aanhoudende aanvalle geniet, maar telkens wanneer United die bal kry en aanval, het Persies hulle oor die kantlyn geboender. Ná een van dié lynstane het United pragtig gedryf en in die hoek oorgeduik. Die doelskop was mis; 10-13 in Persies se guns.

Dit was ook die rustydtelling.

In die laaste 10 minute het Persies ingeskop. United het die bal ontvang. Persies het nie ’n tree teruggestaan nie, maar weer het United se dissipline hom in die steek gelaat en Persies het ’n strafskop gekry. Johnson het die bal tussen die pale deurgestuur; 10-16 vir Persies. United het daarna nog ’n strafskop gekry, maar die poging was onsuksesvol.

Persies het besit ná die inskop omgekeer toe United fouteer en veld-op gehardloop. Jeftha het die bal gekry en sy tweede drie onder die pale gedruk. Die doelskop was oor; 10-23 vir Persies.

Ná die inskop het United Persies uitoorlê en gaan druk (doelskop oor; 17-23 vir Persies). Persies het besef dat die uurglas leegloop en verwoed aangeval. Sy pak voorspelers wat United telkemale laat les opsê het, het weer meters veld met brute dryfkrag gewen. Hulle het die bal aan die agterlyn besorg en toe Persies se plaasvervanger-losskakel, Shamieg Williams, die bal kry, laat waai hy met ’n rolskoppie.

Mchenry Malgas – ook vars van die bank af – het die bal gejaag en oorgeduik. Jeftha het seker gemaak; 17-30 vir Persies.

Persies het die wedstryd in die doodsnikke oorheers, maar United se verdediging was rotsvas en Persies kon nie nog punte aanteken nie.

Persies se B-span het met 15-7 teen United se naasbestes vasgeval.

. Eerskomende Saterdag (8 September) reis Persies weer De Doorns toe waar hy teen Mountain Stars speel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.