Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Protea blom weer ná naelbytriller teen Ashton

Protea het sy kanse vir ’n uitspeelplek in die Boland se Grootuitdaag-rugbybeker lewend gehou toe hy daarin geslaag het om Ashton United in ’n opwindende naelbytstryd 38-37 te klop.

Ashton het sy rekening eerste geopen met ’n strafskop deur sy losskakel, Dawid Wagenaar. Die tuisspan van De Doorns het vinnig in kenmerkende Protea-styl teruggeslaan en in sy eie kwartgebied met die bal begin hardloop, wat in ’n drie vir die senter Nathan Jacobs, wat heeldag ’n doring in Ashton se vlees was, geëindig het. Die senter Tersius Noble het verdoel.

Met die telling 7-3 in Protea se guns het Ashton teruggehap met sy ratse skrumskakel, Ruben Rhode, wat gaan druk het, maar die doelskop was mis; telling 8-7 vir Ashton.

Die vleuel Jonathan Jordaan het Protea weer voor geplaas toe sy losskakel, Santino Ranchod, pragtig breek en in die doodvat die bal netjies na sy heelagter, Shaun Jones, aangee, wat in die hoekie gaan afrond het, maar die doelskop was mis.

Die besoekers wou niks weet nie en Wagenaar het weer ’n strafskop oorgeklits en die vleuel Westley Abrahams het ’n drie gedruk wat deur Wagenaar verdoel is. Jonathan Jordaan het sake gelyk getrek met nog ’n strafskop voordat Ranchod weer Ashton se verdediging aan flarde geskeur en Jacobs vir sy tweede drie van die middag oor is. Jordaan het verdoel en die spelers het met die telling 25-18 in die tuisspan se guns gaan water drink.

Ashton het direk ná die begin van die tweede helfte weer eerste punte aangeteken met ’n drie deur die heelagter Claude Mase, wat sake met ’n suksesvolle doelskop gelyk gemaak het.

Jones het ’n stukkie briljante spel gelewer toe hy ’n paar verdedigers in die stof laat byt en ’n pragdrie gaan druk het. Jordaan se skop was oor en hy het later ’n strafskop bygevoeg nadat Protea die Ashton-skrum onder groot druk geplaas het. Die telling het met 10 minute speeltyd oor tot 35-25 gerek.

Ashton het ’n opwindende einde opgedis toe die plaasvervanger Faizel Fortuin oor is vir ’n drie (skop oor). Die tyd was al verstreke toe Jonathan Khompela vir nog ’n Ashton-drie oorgerol het, maar Wagenaar se doelskop was tot groot verligting van die tuisspan links verby.

Ander uitslae op die dag:

Protea B 17-28 Ashton United B

Protea C 10-17 Ashton United C

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.