Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Protea draai die krane oop en klop Touwpark maklik

Protea het sy Grootuitdaagbekerveldtog op ’n goeie noot begin toe hy Touwpark in De Doorns 34-10 verslaan het.

Die besoekers van Touwsrivier was behoorlik uitgehonger vir die wedstryd en het in hul hordes op De Doorns toegesak met die hoop op ’n oorwinning.

Die eerste 30 minute van die wedstryd is gekenmerk deur baie hanteerfoute en lekker inklimspel tussen die twee spanne.

Dit was egter Protea wat eerste bloed geruik het toe die haker, Anthony Verhoog, gaan druk ná ’n skitter rolmaalbeweging van ’n lynstaan. Die senter Tersius Noble verdoel die drie. Touwpark slaan amper dadelik terug met ’n strafskop deur losskakel Clayton Isaacs. Touwpark, teen die verloop van spel, sorg vir die drie van die dag toe hy van sy eie kwartgebied hardloop met die heelagter Jess-Lee Kok wat netjies afrond. Clayton Isaacs verdoel die drie en gee Touwpark ’n onverwagse voorsprong van 10-7 met rustyd.

Die afrigter, Alfred Bailey, moes iets reg gesê het in rustyd, want Protea lyk toe na ’n heel ander span. Dit was behoorlik eenrigtingverkeer in die tweede helfte. Eers maak regtervleuel Jonathan Jordaan sake gelyk van die strafmerk voordat die linkervleuel, Terrence Luddick, netjies afrond vir ’n onverdoelde drie ná ’n goeie steel deur die veteraanslot, Johan Stanley, in die lynstaan.

Protea draai behoorlik die skroewe vas en versmoor Touwpark met goeie verdediging wat lei tot ’n onderskepdrie deur die losskakel, Santino Ranchod, wat deur Jonathan Jordaan verdoel word vir ’n voorsprong van 22-10. Jordaan haal toe behoorlik die wind uit Touwpark se seile met nog ’n onderskepdrie waar hy 60 m doellyn toe nael en oorgaan in die hoekie. Die drie word deur die heelagter, Brandon Esau, verdoel. Die tuisspan slaan net voor die einde die laaste spyker in die besoekers se doodskis toe die plaasvervangerflank, Joseph Kommando, oorgaan vir ’n onverdoelde drie, wat die eindtelling na 34-10 bring.

In ander uitslae van die dag klop Protea C sy eweknie van Touwpark 25-3, terwyl Touwpark B vir Protea B 35-11 afstof.

. Eerskomende naweek ontvang Touwpark vir Villagers Worcester, terwyl Protea reis na Worcester vir ’n stryd teen Young Hamiltons.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.