Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Villa slaag karaktertoets


Onelogix United Bulk Villagers het Saterdag 9 Maart op Bolandpark sommer streepsakke vol durf aan die dag gelê deur slegs met een punt in ’n SSG Cold Cup-kragmeting teen die Rhinos van Limpopo te verloor. Die telling was 41-40.

Die span van Limpopo was in ’n stadium 17-0 voor.

Die wedstryd het teen ’n geweldige tempo afgeskop met veral die span van Limpopo, met ’n fris briesie in sy guns, het die pap lekker dik aangemaak. Boonop verloor Villa sy skrumskakel, Matthew Nortje, sommer in die eerste minuut en moes sy deurwinterde losskakel Yazeed Johnson op die belangrike posisie gaan diens doen met plaasvervanger Austin Hendricks wat op losskakel diens doen.

Rhinos slaan sommer in die vierde minuut toe, toe heelagter Ashwill Adams ná ’n volle agterlynbeweging oorgaan vir ’n drie wat losskakel Cecil Dumond ongelukkig nie kon verdoel nie. Met sy swaarder pak voorspelers pas Rhinos nou geweldige druk toe en gaan Adams kort hierna vir sy tweede drie oor, wat Dumond boonop verdoel vir ’n 12-0 voorsprong. Volgehoue druk eindig in ’n drie deur agsteman en kaptein Attie Louw, wat Dumond ongelukkig nie kon verdoel nie.

Villa se terugvegpoging begin hierna dramaties met Hendricks wat skitterend breek en toe hy voorgekeer word, was Johnson by om te druk en boonop self te verdoel. Rhinos slaan egter weer terug toe Dumond met ’n maklike strafskop slaag. Villa gee egter nooit bes nie en word beloon met ’n drie deur die loskopstut Jasherie Karriem, wat Johnson pragtig uit die hoekie verdoel nadat die linkervleuel Lincoln (Grimmy) Eksteen ná skitterende voetwerk, die Rhinos behoorlik aan die raai gehad het.

Kort ná rustyd wys Villa wat werklik in hom steek toe hy die voortou neem (21-20) nadat Eksteen weer die verdediging tot die uiterste beproef en toe hy voorgekeer word, met ’n onderarm-aangee die alomteenwoordige Karriem in die hoekie oorstuur vir sy tweede drie. Johnson se suksesvolle doelskop uit die hoekie besorg aan Villa die voortou vir die eerste keer in die wedstryd.

Rhinos kom weer met mening terug toe die haker Sidney Tobias (seun van oud-Springbok Errol Tobias) oorgaan en Dumond verdoel. Villa slaan weer terug toe Eksteen weer met perfekte tydsberekening vir heelagter Shandro Issel oorstuur en Johnson weer pragtig verdoel om weer die voortou (28-27) te neem.

Kort hierna gaan slot Ruan Venter oor en verdoel Dumond om Rhinos weer met 34-28 te laat voorloop. Rhinos se voorsprong rek na 41-28 toe Tobias oorgegaan het vir sy tweede drie en Dumond verdoel. Villa slaan weer met mening terug toe sy vlugvoetige flank Damian Fuller die wedloop doellyn toe wen nadat ’n bal wat losspat vorentoe geskop word en in die doelgebied toegeval word. Johnson se doelskop trek ongelukkig links verby.

Villa neem nou beheer oor en word met ’n sewepunter beloon toe plaasver­vanger-heelagter, Gershwin Wehr, na slim spel onder die pale oorgaan en Johnson verdoel om die telling op 41-40 te staan te bring. Die vroueskeidsregter, Aimee Barrett-Theron, blaas hierna die eindfluitjie tot groot verligting van die besoekers wat agterna erken het dat hulle beslis tot die bittereinde gefokus moes bly om ’n begeesterde Villa in toom te hou. Villa reis Saterdag na George waar hy Progress in sy volgende Gold Cup-kragmeting die stryd gaan aansê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.