Met somersport in die streek wat op die een hoogtepunt na die ander afstuur, word die sportkalender verder aangevul met krieketspelers van weleer wat letterlik en figuurlik skouer gaan skuur.
Die legendariese Wolseley- en Robertson-oudspelers sit Saterdag op Robertson ’n jare lange tradisie voort wanneer dié twee spanne die glorie van weleer in ’n beperkteboulbeurtwedstryd wil laat herleef.
Met die klem op sosiale samesyn eerder as ’n wenmotief sal die manne nogtans wil wys dat hulle nog nie hul slag verloor het nie, en dien dit ook as ’n vertoonvenster vir die voortbestaan, belangrikheid en mentorskap wat die legendariese spelers se hoofdoel is.
Die twee spanne se besluit om na baie jare weer op die krieketveld te ontmoet, is ook daarop gemik om die spel onder die senior geslag te laat herleef – iets waarby die hele streek betrokke kan raak.
Wêreldwyd is legendes-krieket stadig maar seker besig om momentum op te bou en plaaslik hou dit ook groot belofte in, dus behoort Saterdag se wedstryd ’n vertrekpunt te wees en kan dit help om die belangstelling verder te prikkel.
Die uitslag van Saterdag se wedstryd sal bloot van akademiese waarde wees, maar die tafel word gedek sodat die liefde vir die spel, harmonie en samesyn die streek se manne as ’n eenheid kan saamsnoer.
Vervoer na Robertson vertrek Saterdag 08:00 en kos R80 per persoon. Enige belangstellendes kan die spelerskorps nader vir meer besonderhede.