In Sondag se wedstryd in Stellenbosch het United sleg tweede gekom teen die sukkelende Spes Bona.
United, wat die loot gewen en besluit het om die besoekers in te stuur om te kolf, moes 214 lopies jaag vir ’n oorwinning.
Spes Bona moes harde klippe kou toe die span in ’n stadium homself op 119/8 met die rug teen die muur bevind het. Swak besluite met die aanwending van die boulers was grootliks die oorsaak vir die nederlaag. Drie verbroude vangkanse was ook een van die groot teleurstellings van die dag.
Spes Bona se beurt het twee belangrike vennootskappe ingesluit: die vierde paaltjievennootskap tussen Razeen Ruiters 86 (142 balle) en Edgar Rinquest 39 (51 balle) asook die laatste paaltjievennootskap van 59 onoorwonne lopies.
Spes Bona teken 143 in sy toegelate 50-boulbeurte aan. Die linkerhandse draaibalbouler, Adrian du Toit, het behoorlik die besoekers se sterte geknoop. Hy staan 11 lopies in sy 10-boulbeurte af en neem vier Spes Bona paaltjies. United het in sy beurt nie goed begin toe die eerste paaltjie met die telling op nul geval het. Nog twee vinnige paaltjies daarna het dit gelyk of die United-skip reeds op die rotse te lande gaan kom.
Darren Daniels (31 van 59 balle) Monray Langdon (37 van 84 balle) en Adrian du Toit (34 van 42 balle) was die United-kolwers wat goeie bydraes gelewer het.
Die nederlaag het egter geen verandering op die punteleer bewerkstellig nie. Worcester United is steeds bo-aan die punteleer met ’n voorsprong van sewe punte.
Die naweek speel die span weg teen Piketberg wat derde op die punteleer is. Die span se tekortkominge is erg ontbloot. Dit gaan interessant wees om te sien hoe hulle die naweek op ’n verloor gaan reageer.