Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Rond en Bont
Biblioteek: ‘Ha, wat vertel jy my nou?’

Ek het verlede Vrydagmiddag die Waterloostraat-biblioteek besoek om lafenis van die versengende hitte te soek.

Die biblioteek is een van die koelste plekke waar ’n mens lafenis vir die lyf en siel kan soek. Ek wou ook sommer die “nuwe” biblioteek beleef. Dit het verlede Woensdag heropen nadat die gebou vernuwe is.

Ken McIntyreFoto:

y belangstelling is geprikkel deur die foto’s van die biblioteek se binnekant op ons burgemeester, Antoinette Steyn, se Facebook-blad. Uit blote nuuskierigheid moes ek ook gaan kyk waar die ligging van die opgang met ’n rooi tapyt in die gebou is.

Op die foto het dit gelyk soos ’n nuwe, rolstoelvriendelike ingangsportaal wat grênd genoeg is vir prins Harry en sy vrou, Meghan, om op te loop. Toe nie.

Harry en Meghan sal egter in die nuwe biblioteek heel tuis voel. Dit is ultramodern, stylvol en terselfdertyd is die uitleg baie prakties.

Veral die afdeling vir Engelse en Afrikaanse niefiksie is aansienlik uitgebrei. Dit lyk my daar is ook heelwat meer grootdrukboeke, wat goeie nuus vir swaksiendes sal wees.

Die lesershoekie vir diegene wat koerant wil lees of deur ’n tydskrif wil blaai, is ook aansienlik opgradeer. ’n Mens sal heelwat tyd op die gemaklike sitplekke kan verwyl.

Dan is die rekenaars na ’n afsonderlike lokaal verskuif. Dit bied meer privaatheid aan mense wat enige van die elf rekenaars wil gebruik.

Die groot verrassing is egter die afdeling vir nie-fiksie. Wat die verrassing nog groter maak, is dat geen rigtingaanwysers by die begin van die loopgang aangebring is nie.

’n Mens weet half nie of jy daar mag stap nie. Is dit dalk ’n kombuis of ’n rusplek vir die personeel, of ’n stoorplek of lesinglokaal?

Daai opgang met die rooi tapyt lei egter na ’n goed ingerigte lokaal vir alles van studiegidse tot ensiklopedieë.

Hier is ook loopbaangidse en wetenskapsfiksie. Op die aangrensende rak sal aanhangers van fantasieboeke deur skrywers soos Terry Pratchett heelwat tyd kan deurbring. Die biografie-afdeling bied lewensgeskiedenis van mense soos Elvis, die rockgroep One Direction, Nelson Mandela en verskeie ander bekende rolspelers.

Die biblioteek het nou voldoende sitplek. Lesers kan kies tussen een van vyf tafels, elk met sitplek vir vyf mense. ’n Lang tafel het nog tien stoele.

En dis die moeite werd om dié afdeling te besoek net om die rustigheid, wat tradisioneel met biblioteke gepaardgaan, te ervaar.

Deesdae is dit mode om inligting op skerms na te slaan. Dis die moeite werd om ’n slag weg te breek van ’n skerm en te besef dat boeke baie meer interessant is.

Die biblioteek is ’n groot aanwins vir Worcester en veral vir boekwurms – ongeag watter soort boek jy wil lees, hetsy vir vermaak, vir afleiding of om meer inligting te bekom. Hier is iets vir elke smaak.

Toe ek so deur die biblioteek stap, dink ek die heeltyd aan ’n sekere Worcesteriet se reaksie. Wanneer ek hom iets vertel wat hy nog nooit gehoor het nie, kyk hy my oopmond en sê: “Ha, wat vertel jy my nou!”

Ek dink hy sal oopmond deur die hele biblioteek stap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.