Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Rond en Bont
Boksprojek is om uit die boks te dink

Dis vandag die laaste dag van Oktober en ek besef nou eers dat ek nie vandees­maand pienk materiaal om Worcester se bome en pale gesien het nie.

Die denneboom voor die Pines-kliniek is vroeër jare in Oktober in die mooiste oranje getooi. Die oranje is voorheen in Oktober gebruik om bewusmaking van geestesgesondheid te skep. Luidens ’n brief van Pines-kliniek wat in Oktober 2013 in die Standard verskyn het, is oranje ’n vreugdevolle kleur wat gevoelens van selfbejammering, ’n gebrek aan eiewaarde en onwilligheid om te vergewe, oorkom.

Ken McIntyre
Ken McIntyre

Die pienk materiaal is gebruik vir borskankerbewustheidsmaand. Ek het altyd die pienk met die sagte kant van vroulikheid geassosieer.

Ek’t nogal gedink swart materiaal kan gebruik word om mense bewus te maak dat borskanker ook by mans kan voorkom.

Die Cansa Relay for Life is wel Saterdag en Sondag 12 en 13 Oktober by Hoërskool Montana aangebied. Die Langeberg-streek se Relay is die daaropvolgende naweek by die Robertson-skouterrein gehou.

Vandeesmaand het ’n nuwe projek, Boks vir ’n Boervrou, mense se verbeelding landwyd aangegryp. Die idee is om geskenke in ’n skoen- of wynboks in koerantpapier toe te draai en ’n lint om te sit.

Die bokse gaan dan in die Noord-Kaap aan vroue en hul gesinne wat weens die droogte swaarkry, oorhandig word. Dit was interessant om in Huisgenoot te lees dat koffie, kondensmelk en Weet-Bix boaan die vroue se wenslys is. Nie-bederfbare kos, toiletartikels soos lekkerruikgoed, seep en tandepasta kan ook in die boks gepak word.

Die personeel van die eiendoms­agentskap Realtors International sowel as die bouhandelaar Buco in Worcester het besluit om by die projek betrokke te raak. Worcesteriete kan tot môre nog bokse by Buco afgee.

Jorinde Viljoen, wat die projek namens Realtors koördineer, beskryf Worcesteriete se reaksie as verstommend.

Martin Oberholzer van Buco het aangebied om die bokse na Wellington VLV te vervoer. Die projek is ’n inisiatief van twee vroue van Wellington VLV.

Ek sien in my geestesoog hoe die Noord-Kapse vroue in ’n kring sit en geskenke uitruil. “Ek gee jou twee blikkies baked beans vir ’n blik kondensmelk.”

Verder lees ek op ds. Nioma Venter en NG Kerk Worcester-Noord se Facebookblad dat die Innovation for the Blind in Worcester met Badisa en Diaconia saamgespan het om ook mense in die Noord-Kaap te help.

Belangstellendes kan ’n pakkie koffie, verpak deur mense met meervoudige gestremdhede, koop. Die geld word deur die Noord-Kaapse Omgeefonds vir die lewering van dienste aan bejaardes en mense met gestremdhede aangewend.

Dit is sulke vernuwende denke wat sulke projekte te voorskyn bring. Nou wonder ek of iets soortgelyk in Worcester op die been gebring kan word.

Hier is groot nood en ’n permanente “Boks vir ’n sorgbehoewende”-projek sal baie mense se harte verbly.

Hier is diensorganisasies wat jare lank kospakkies en toiletware onder sorgbehoewendes versprei en ek glo hulle sal hulp en ondersteuning waardeer.

Só projek moet verantwoordelik bestuur en gekoördineer word om oorvleueling te voorkom en toe te sien die bokse bereik die armstes van die armstes.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.