Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Jong Stemme
Ek gaan elke storie, elke mens onthou

Breederiviervallei, ek gaan julle stories vir altyd onthou.

Teen nou het die nuus seker al versprei. Dis met ’n hartseer hart wat ek die Worcester Standard groet. Daar lê ’n nuwe vooruitsig vir my in Johannes­burg voor.

Ek weet nie regtig hoe sê ’n mens totsiens aan ’n gemeenskap soos Worcester en ’n plek waar jy tuis gevoel het nie, maar kom ek probeer.

Ek het verlede jaar bykans 400 km van my tuisdorp, George, verhuis om die werk by die Standard te aanvaar. Mettertyd het ek mense ontmoet met wie ek verhoudings gebou het. Dankie aan almal wat my een of ander tyd gehelp het of na my omgesien het. Ek gaan na julle almal verlang.

’n Tannie in Roodewal het altyd vir my koeksisters of ander lekkernye gebak. ’n Tannie in Hexpark het soms my klere gewas en my genooi vir Sondagmiddagetes. My kollega JP Myburg het altyd sy appels met my gedeel en Chloe (ons bynaam vir ons ontvangsdame Charlica Julies) haar middagete. Marlene Jordaan, die redakteur, het altyd aangebied om te help waar sy kan. Ek het waardevolle bronne gehad (julle weet wie julle is).

Brüilda Swartbooi

Ek was nooit bang nie, want ek kon enige mens enige tyd bel en hulle sou my kom help as ek in die nood sou verkeer. Ek kon altyd lekker geselsies met die vriendelikste petroljoggies oorkant die Standard se kantoor aanknoop. Ek gaan selfs na die oom wat gereeld my gras kom sny het, verlang.

Toe ek hom bel om te laat weet ek trek, het hy soos ’n bekommerde familielid gesê: “Meisiekind, kyk mooi na jouself en moenie so rof raak soos die mense daar bo nie. Bly altyd so pragtig.”

Ek het hier in Worcester kom groei. Hier het ek ook my hond, Thembs, aangeneem. Vandag sal ek nie eens my lewe sonder haar kan voorstel nie.

Vra maar vir enige joernalis. Die stories waaroor ons skryf en die mense wat ons ontmoet, bly vir altyd deel van ons. Worcester en die totale Breederiviervallei, ek gaan julle stories onthou.

Daar was een emosionele onderhoud waar my trane vlak in my oë gelê het. Dit was die onderhoud met die familie van wyle Beatrice Manuel wat by haar werk in Zwelethemba geskiet is. Terwyl ek ’n sneesdoekie vir haar jongste seun, Dillon, gegee het soos hy sy laaste gesprek met sy ma herroep het, wou ek saam met die familie huil.

Twee jong kinders, Duran Thomas, wat die nieroorplanting gehad het, en Robyn Jack, wat die beroerte gehad het op sewe jaar oud, het my gehelp om die lewe uit ’n nuwe oogpunt te sien. Hierdie siektes het nie een van hulle ondergekry nie.

Annelie Wessels, Ciska Groenewald, Hester en Willie Swartz (63 jaar saam), die minderjarige wat deur die skoolhoof gemolesteer is, selfs die skole in die streek en die vriendelike koerant­verkoper, Jan Johannessen. Ek onthou julle en dankie dat julle jul stories gedeel het.

Sommige stories leer ons oor vergifnis, ander oor liefde, waardering, uithouvermoë, veggees en selfs ywerigheid. Elke storie waaroor ek geskryf het, was vir my spesiaal en ek dra elkeen in my hart

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.