Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Rond en Bont
Geldinsamelings met ’n verskil help talle

Hoe gaan dit lyk as ek môre in Hoogstraat afstap, geklee in ’n neonoranje kortbroek, groen hemp en blinkblou skoene?

Gaan almal weet ek ondersteun môre se Loslitdag of gaan hulle dink ek is van my sinne beroof? Nee wat, dit was net ’n opwellende gedagte.

Ken McIntyre

Met my gesette lyf gaan mense my so aanstaar dat dit tot ’n motorongeluk of twee kan lei. Of mense kan in pale vasloop.

Maar ja, Loslitdag gaan ek ondersteun, al kan ek nie by vanjaar se tema, Tyd om te blink, inpas nie. Trouens, ek sal elke dag R10 skenk om in ’n kortbroek en kortmouhemp te kan werk.

Loslitdag baat immers 14 organisasies vir mense met gestremdhede. Dit sluit in die Nasionale Instituut vir Dowes, DeafSA (die nasionale federasie vir dowes) asook Blind SA.

Loslitdag het van 1995 af R343 miljoen ingesamel. Deur die jare het dit ook ’n bietjie pret na die werksplek gebring.

Die uiteenlopende maniere wat plaaslike organisasies gebruik om geld in te samel, is nogal interessant.

Verlede Vrydag het ASD – die Association for Sensory Disabled – die vyfde agtereenvolgende jaar sy jaarlikse “Jailbreak” gehou. Verskeie Worcesteriete word weens die belaglikste “klagtes” denkbaar deur veiligheidsbeamptes van Capital Security “in hegtenis” geneem.

Hulle word dan na ’n “tronk” geneem en moet borgtoggeld insamel om vrygelaat te word. Toe ek Vrydag omstreeks 13:30 die “gevangenis” besoek, het hulle al R130 000 ingesamel. Die tronk is elke jaar in een van die casino se onthaallokale en die “verdagtes” word heerlik op eet- en drinkgoed getrakteer.

Die geld word aangewend vir die besonderse behoeftes van die multigestremde kinders in die Sean Kelly-tuiste in Tulbaghstraat.

Die Vryburgers omgeemense van Worcester hou eerskomende Saterdagaand hul jaarlikse wildvleisete en dans. Dinsdag 17 September hou hulle die derde agtereenvolgende jaar ’n duiweveiling in samewerking met die Lionsklub.

Belangstellendes kan op duiwe bie wat aan ’n wedvlug deelneem. Die bieër op die wenduif ontvang prysgeld en die volgende sewe wenners kan ook prysgeld aan die hoogste bieërs besorg.

Tafelronde se gewilde Follies word weer op 1 en 2 November by Mountain Mill Mall aangebied. Dit is beslis die joligste geldinsamelingsprojek in Worcester.

Dit verg mannemoed van die manne van die klub om hul beenhare te skeer, vroueklere aan te trek en soos vrolike, vroulike popsterre op die verhoog op te tree. Die lede oefen reeds maande lank om seker te maak dat hul vertoning seepglad verloop.

Die wins is die afgelope paar jaar telkens bo die R100 000-kerf.

Verder hou verskeie organisasies en skole jaarliks ’n gholfdag om geld in te samel. ’n Ywerige gholfspeler kan byna een keer per week reg deur die jaar aan só ’n dag deelneem.

En terwyl ek aan die slotparagraaf skryf, weet ek daar is nog tientalle organisasies wat nie hier genoem is nie. Ek wil elkeen sterkte toewens met hul projekte.

Myns insiens is die geheim van ’n suksesresep om iets interessants aan te bied – verkieslik iets wat gaste vermaak en aan die einde van die aand met ’n lied in die hart huiswaarts laat keer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.