Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Stemme
Rond en Bont
Niemand meer vuur en vlam oor Erfenisdag

Aangesien Dinsdag ’n openbare vakansiedag is en die skole môre sluit, gaan ’n paar Worcesteriete seker vir ’n langnaweek wegbreek.

Hulle gaan sommer môreaand al nasionale braaidag begin vier.

Ken McIntyreFoto:

Ek hoop en vertrou dat die naweekbestemming darem televisie het sodat almal die Springbokke kan ondersteun.

Plaaslike kuierplekke en restaurante wat op die Wêreldbekerrugbywedstryde inskakel, gaan seker flink sake doen aangesien die Ess Ai Bee Cee nié die toernooi gaan uitsaai nie.

As die Springbokke net Saterdagoggend verby die All Blacks kan kom, behoort hulle die oorblywende kragmetings teen Namibië, Kanada en Italië fluit-fluit te wen.

DTH van der Merwe, wat in Worcester gebore is, gaan die vierde keer in ’n wêreldbekerrugbytoernooi vir Kanada uitdraf. Hy is in 1986 hiér gebore, maar sy ouers, dr. Danie van der Merwe en sy vrou, Ilse, het in 2003 na Kanada emigreer. Terloops, dr. Van der Merwe se praktyk was in Fairbairnstraat.

Wanneer dit by nasionale en internasionale sporttoernooie kom, is ek klokslag spyt dat ek tot SABC en e-tv beperk is.

Ek hoor ek kan steeds die rugby stream of live stream of iets met ’n stroom te doen. My kollega se verduideliking was te tegnies, toe staan ek maar net en kopknik. Dis blykbaar een van daai onwettige dinge wat mense maar net doen.

Volgens my seun kan ons in elk geval nie daardie roete volg nie. Hy meen ons televisiestel is so ouderwets, selfs die museum sal dit nie wil uitstal nie.

Die gate waar jy die kabels inprop was nog nie ontwerp toe my televisiestel vervaardig is nie.

Gelukkig het my pel Piet ’n moderne platskermtelevisie met kanale wat ek nog nie eens van gehoor het nie. Amper sê ek sy televisie staan langs die regte stroom. Piet het ook ’n binnebraai in dieselfde vertrek. Bonus.

Om nie van ons vriendskap misbruik te maak nie, sal ek seker die tjops moet voorsien. En ’n boks wyn sodat ons darem iets het om die Springbokke se oorwinnings mee te vier . . . of om ons uit die dieptes van ons droefheid te help sou die nasionale vyftiental nie die paal haal nie.

Met die Wêreldbekerrugby wat eers 2 November eindig, sal dit seker wys wees om sommer ’n heel lam by ’n slaghuis te koop. Teen sowat R90 per kilogram, is dit heelwat goedkoper as los pakkies tjops wat verlede Saterdag in my gunstelingsupermark R130 per kilogram gekos het.

Dan staan daar nogal SAVE! in groot letters voor die uitstalling. Ja, ek het gespaar – deur nie die tjops te koop nie.

Dis vanjaar die 14de jaar dat nasionale braaidag op 24 September gevier word. Vir my is dit baie interessant dat mense nog vuur en vlam is oor dié dag.

Niemand praat meer oor 24 September as Nasionale Erfenisdag nie. Mense gesels eerder oor wat hulle Dinsdag op die rooster gaan pak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.