Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Worcester Standard
Kampeer is nie vir sissies nie
“Nee, ou seun, hierdie Chinese tentpenne gaan nie werk nie,” sê ’n ou man met ’n vuil baard voordat hy sy jong seun nader roep om regte tentpenne te gaan haal.
Dit is my en Liefie se eerste kampeer-probeerslag en, soos met vele eerste kere, moes iets iewers verkeerdloop.
Ons het vroegoggend die motortjie gelaai, met koffieflessie reg, en daar vertrek ons in die rigting van Mosselbaai. Tent, slaapsakke, opblaasmatras, kampyskassie, vleis, kos en drank alles in.
Met ons aankoms by die kampterrein kom ons agter ons weet glad nie hoe om die tent op te slaan nie. Maar ek is ’n man, ons vra mos nie vir hulp nie.
Sowat ’n uur later besluit Liefie genoeg is genoeg en sy gaan roep ons behulpsame kampbuurman, Oom Mario.
Nadat oom Mario sy seun gestuur het om vir ons regte tentpenne te gaan haal, slaan hy die tent in twee minute op.
“Kan sy lekker braaibroodjies maak?” vra die oom my en beduie in Liefie se rigting.
“Baie, lekker,” antwoord ek hom vinnig. “Wel, jy weet wat hulle sê van trouman soek, dame? Wel, hy moet ’n tent kan opslaan,” sê hy met ’n knipoog in my rigting.
Ek kan darem braai, dink ek by myself. Die eerste aand waai die wind amper ons goedkoop tentjie weg. Die ander kampeerders kom vra ons die volgende oggend of ons nag een oorleef het in ons tent.
“Ja natuurlik,” antwoord ons.

Teen dag twee kom daar ’n groot storm en ons besluit die middag dat om te braai, nie gaan werk nie. Ons gaan uiteet.
Dit reën daardie aand baie hard. Die opblaasmatras ontwikkel ’n lekkasie en ons slaap die hele nag op die grond, in die reën.
Die volgende oggend is dit weer dieselfde vraag van die kampeerders en ek frons liggies terwyl ek sluk aan my warm koppie koffie.
Teen dag drie stel ’n ander kampeerder voor dat ons ons motortjie voor die tent parkeer om die wind te keer. Daai aand draai die wind.
Die volgende oggend kry een van die kampeerders ons so jammer dat sy vir ons ’n stuk koek bring.
Shame, oorleef julle nog in die tent?”
Ek sit en wonder wat fout is met ons tent dat almal dit vra. Die kampeerdery staan einde se kant toe, dit is die laaste dag en dit raak tyd vir oppak.
Afslaan is makliker as opslaan, het ek al gehoor, maar ek weet nie hoe waar dit is nie. Ons sukkel om alles in die motortjie gelaai te kry en die tent wil glad nie in sy sak terug nie.
Ons sit en kyk vir die son wat vir oulaas oor die Indiese Oseaan opkom. Eendag gaan ons vir ons kinders hierdie storie vertel.
Ek dink aan Oom Mario wat lankal terug is huis toe en sy tentpenne vir ons verniet gegee het.
“Nee, ou seun, hierdie Chinese tentpenne gaan nie werk nie.”
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.