Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Worcester Standard
Ons almal het 'n bietjie 'heavy metal' in ons
Ek het onlangs aan ’n gesprek met ’n kollega deelgeneem oor musiek en die rol wat dit speel in hoe ’n mens as kind gevorm word.
Vir die meeste van ons kan ’n liedjie of musiekstuk jou onmiddellik na ’n sekere tyd in jou lewe verplaas.
Vir my is dit Nana Mouskouri, Trini Lopez, Dean Martin en Elvis. Dit was my ma se gunsteling-langspeelplate. Dan was daar ook Louis Armstrong en Ella Fitzgerald in haar versameling, tussen musiekblyspele soos Oklahoma!.
Hierdie blyspel het ek as klein meisietjie in my tuisdorp, Kroonstad, se skouburg gaan kyk en ek kon elke liedjie saamsing.
Marlene Jordaan
Dan was daar natuurlik ook Mozart en Beethoven en operas soos Madame Butterfly, waarin ek nooit regtig as kind kon sin kry nie, maar wat ek nou meer waardeer. Soms skop opvoeding laat in.
As enigste kind, wanneer my ouers Sondagmiddae ’n uiltjie geknip het, was my enigste geselskap op die plaas doodse stilte, of miskien ’n brommer wat verbete kap-kap deur die spaarkamer se venster probeer ontsnap het.
Dan het ek die verveling agtergelaat deur na my ma se plate op die draaitafel te luister.
Later van tyd, toe ek my eie smaak (en wil) ontwikkel het, het ek in die 1980’s eers na Wham, Yazoo, Talking Heads, en later van tyd na Bruce Springsteen, Rolling Stones, Queen, Meatloaf, AC/DC en Black Sabbath (elkeen van ons het ’n bietjie heavy metal in ons), en The Doors geluister. Dan was daar natuurlik my gunsteling band Depeche Mode, waarvan ek steeds die meeste liedjies op my speellys het.
Op universiteit het ek in die vroeë 90’s na Johannes Kerkorrel se Voëlvry-toer gaan kyk nadat universiteits­owerhede die horriepiep gekry en hulle van die kampus verjaag het.
Valiant Swart en Koos Kombuis het in daardie jare ook, saam met Die Kommissie van Ondersoek, onder die liedjieboer Anton Goosen se leiding, die politieke weerstand teen die establishment onder jong Afrikaanse mense van konsertverhoë af laat posvat.
Johnny Clegg en PJ Powers het brûe vir ons geslag gebou en ek het oorgestap na die oorkantste oewer waar Hugh Masekela en Sipho ‘Hotstix’ Mabuse geluister word – dit was lekker en bevrydend.
Vandag, met kinders, honde en ’n huis, luister ek steeds na die meeste van daardie musiek – net soos elkeen wat hier lees sekerlik sy eie ‘speellys van sy lewe’ het.
Dit is die musiek wat jy saam met moedersmelk ingekry het, wat jy as tienerrebel met ’n skelm sigaret agter die motorhuis ge-“pull” het, as jong volwassene ná ’n harde dag van jou eerste werk en as grootmens met baie laste, jou eie gemaak het. Dit bied steeds vandag vir jou ’n plek van uitkoms en ’n direkte lyn tot jou eie herinneringe en binnekamer.
Daarom, soms, as die lewe druk en ek myself moet behandel oor ek nie ’n sielkundige kan bekostig nie, sit ek my oorfone op en luister na my ma se Louis Armstrong.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.