Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Worcester Standard
Tot siens sê is die prys van 'n nuwe uitdaging
Totsiens. Tot ons weer sien. Sien gou weer. Sien weer.
Dit is die woorde wat die afgelope maand gereeld uit my mond kom wanneer ek van vriende of familie weggaan.
Gewoonlik was dit “Sien jou later”, “Praat later” of “Mooi bly”, want ek sou dan weer gou ’n draai kom maak. Deesdae is dit nie meer die geval nie. Ek het getrek en woon nou op ’n ander dorp.
Dinge is nie meer dieselfde nie, die mense hier is anders, dis asof ek in ’n ander wêreld is. Of dalk is dit net ek?
Dit is Sondag laatmiddag en ouder­gewoonte gaan ry ek ’n draai om te kyk wat in die dorp aangaan – eintlik soek ek net stories. Ag, vir wie probeer ek flous, tog nie myself nie? Om eerlik te wees, ek soek eintlik net ’n huis waar ek poeding kan gaan eet.

Die gesegde “ ’n mens besef nie wat jy het totdat jy dit verloor nie” kom by my op. Dit is so waar. In my geval het ek dit nie verloor nie, ek ken net nog nie genoeg mense hier nie.
Kyk, in Worcester was dit maklik. Ek kon enige tyd na een van my susters gaan of sommer net by my kontakte of vriende se huise gaan draai. Ek het altyd iets gehad om te doen en mense gehad om te gaan sien.
Ek besef ook goed dat daar niks is in die lewe wat dieselfde is nie – en as een van ’n identiese tweeling weet ek dit al te goed.
Angelo Julies
Ek besef dat my nuwe tuiste nie Worcester is of ooit sal wees nie.
Ek het nooit regtig gegroet nie, want ek is nie baie goed met afskeid neem nie. Ek is in die nag hier weg in die hoop dat niemand sal agterkom nie en dat ek ’n lewe, onafhanklik van my ervaring op Worcester, sou hê.
Dit was egter nie die geval nie.
Toe ek ’n bietjie meer as twee jaar gelede in Worcester aankom, sou ek nie kon dink ek sou so geheg raak aan dié Bolandse dorpie en sy mense nie.
Toe ek hier kom, was die plan om net my werk te doen – verslag te doen oor gebeure en huis toe gaan. Dit was tog die ideale plek en nader aan die huis (Touwsrivier). Ek sou gereeld kon huis toe gaan en tyd met my familie deurbring.
Dit was egter nie die realiteit nie. Ek kon nie so gereeld huis toe gaan soos ek verwag het nie. Ek het oor die laaste twee jaar mense ontmoet wat my lewe en sienswyse aansienlik verander het. Ek het in ’n gemeenskap waar meer as net inwoners is, gebly.
My kollegas, vriende en kontakte het familie geword en die mense wie se stories ek vertel het, het deel van my wese geword.
Hier het ek geleer wat dit is om ’n kampvegter vir menseregte te wees. Hier het ek geleer dat die mens belang­riker is as sy storie en dat elkeen se storie deel uitmaak van die boek wat die wêreld van ons dorp lees.
Worcester en die Breedevallei se mense het my geleer wat menswaardig­heid is.
Die nooddienswerkers, polisie en verkeersbeamptes was altyd reg om my te help en my te beskerm wanneer ek in ’n gevaarsone beweeg het.
Die Variati-kamerkooroefening was my terapiesessie ná ’n harde week van misdaad, roof en moord. My koor- en musiek­vriende het familie geword wat altyd daar was as ek ’n skouer nodig gehad het. My vriende hier was altyd beskikbaar vir ’n vinnige kuier of net ’n entjie ry ná ’n lang dag. Die klein, tog nederige kerk was die plek waar ek geestelike verryking gekry het.
Maar dis egter die gewone man en vrou op straat wat ek die meeste gaan mis. Dit is húl stories wat ek kon vertel. Dit is húlle wat my lewe verander het.
So, dankie Worcester en die Breedevallei dat ek jul stories kon vertel.
Nou is dit tyd om die Langeberg aan te durf, die mense hier te leer ken en hul stories te vertel.
Totsiens. Tot ons weer sien. Sien gou weer. Sien weer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.