Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Worcester Standard
Wat gaan ’n ou skaapboudjie dán kos?

Het jy al die TV-advertensie gesien wat sê die eerste kind wat die ouderdom van 200 gaan bereik, is reeds gebore?

Nou wonder ek. Hoe oud is die kind nou? Pasgebore? Of is die kind al ’n tiener?

Vrydagaand se maansverduistering het my aan die advertensie laat dink. Dit gaan die langste algehele maansverduistering van die 21ste eeu wees.

So ’n lang verduistering sal nie weer voor 2100 voorkom nie. Daar is wel op 7 September 2025 ’n algehele maansverduistering.

Dit gaan egter nie so lank wees soos Vrydagaand s’n, wat sowat 102 minute gaan duur, nie.

Worcesteriete behoort dit duidelik te kan sien. Ons oues van dae moet dit waardeer, want dit gaan nie in ons leeftyd weer gebeur dat die maan deur die middel van die aarde se skaduwee beweeg nie.

Afhangende van die kind wat 200 jaar gaan leef se ouderdom in 2018, sal hy of sy gewis die volgende maansverduistering beleef.

Watter veranderings gaan die kind nog beleef? Gaan daar in 2218 steedsmotors wees? Of gaan mense met sonaangedrewe rytuie deur die lug vlieg?

Ken McIntyre
Op skoolvlak, selfs hier op Worcester, het die rekenaar reeds die tradisionele swartbord vervang. Gaan afstandonderrig ons skoolgeboue uitgedien maak?

Hoe lyk die tegnologie van die toekoms?

Ek hoop iemand ontwerp in my leeftyd ’n selfoonbattery wat langer as twee dae hou. En bekostigbare motors wat ligter op brandstof is. En iets wat steeds kan seker maak dat ons huise krag het, maar wat ons heeltemal onafhanklik van Eskom maak.

Sal die kind se dieet aangepas moet word sodat hy of sy langer en gesonder kan leef? Is minder kalorieë, meer oefening en ’n gebalanseerde leefstyl die geheim tot onsterflikheid?

Ek kry klaar die kind jammer indien sy vleisinname verminder moet word. Elke mens moet minstens een keer in sy leeftyd die heerlike ontbeende skaapboud geniet wat Allie Kotze Sondag vir my, my pêl Piet en ons wederhelftes voorgesit het.

Sal die kind eendag vleis kan bekostig? Indien die prys van lamsvleis nou reeds by rondom R120 per kilogram draai, wat gaan die prys in 2118 en 2218 wees?

Besef julle hoe lank is 200 jaar? Worcester gaan sy 200-jarige bestaan eers 28 Februarie 2020 vier.

In my geestesoog probeer ek ’n prentjie skets van hoe Worcester teen 2220 gaan lyk, maar dit laat die verstand duisel.

Indien ek so onlangs soos ’n kwarteeu gelede voorspel het wat die selfoon in 2018 als gaan doen, sou julle gewonder het watter twak ek gerook het. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.